Bible Society of South Africa
Benescke van Rensburg

Nuwe begin – dag 2

Nuwe jaar … sonder vreesithout fear

Bybelteks(te)

LUKAS 10

19Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen.

In Oktober 2011 het ʼn groep olifante in die Chobe Nasionale Park in Botswana teen laatmiddag hulle dors by ʼn watergat gaan les. Toe die volwasse olifant niksvermoedend haar slurp in die water steek, het ʼn krokodil wat in die water gelê en wag het die olifant aan die slurp gegryp en met al sy krag daaraan bly vasbyt …

Die olifant, wat besef het dat sy meer krag het as die krokodil, het vorentoe getree en met al haar gewig op die krokodil getrap. Dit het nie lank geneem voordat die krokodil onder die olifant se gewig geswig en weggeswem het nie.

Net soos die krokodil die olifant onverhoeds betrap het, tref hindernisse ons ook soms sonder dat ons daarop voorbereid is. ʼn Krisis by die werk, die ontdekking dat jou huweliksmaat ontrou is, die diagnose van ʼn gevreesde siekte, ʼn krisis met jou kind of ʼn berig van ʼn rooftog of moord (dalk selfs in jou straat).

Wat is jou reaksie te midde van daardie krisisse? Laat jy toe dat vrees jou oorweldig of herinner jy jouself daaraan dat Jesus die dood oorwin het en aan ons die mag gegee het om deur sy Heilige Gees in ons lewens die vyand te oorwin?

Luister na Jesus se woorde in Lukas 10:19: “Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen.

Jesus stel ons in staat om op slange, skerpioene en ook krokodille (in die vorm van uitdagings en krisisse in ons lewens) te trap. Kom ons vra Hom dus om ons opnuut met sy Heilige Gees te vul sodat ons ook soos die olifant met selfvertroue vorentoe kan tree en wag dat die krokodil wegswem! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS