Bible Society of South Africa
Benescke van Rensburg

Nuwe begin – dag 5

Nuwe begin … met buitengewone geloof

Bybelteks(te)

EFESIËRS 3

20Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, 21aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.

EFESIËRS 3:20-21AFR83Maak oop in die Bybelleser

[Agtergrond: Wanneer laas het jy God vir die bonatuurlike vertrou? Hier volg die getuienisse van twee lesers wat getuig dat God steeds wonderwerke doen.]

Leser 1, Brenda: “Aan die begin van verlede jaar is my en my man se opgewondenheid oor die motor wat ons as verrassing vir my seun vir sy agtiende verjaarsdag gekoop het, geblus toe ons geskok sien dat dit uit ons motorhuis gesteel is – ʼn paar dae voor sy verjaarsdag!

“Ons het dadelik die polisie gebel. Tog, soos die dae verbygegaan het, het die kanse om die motor terug te vind al skraler geword. Ook ons vriende het my probeer paai en gesê dat ek maar moes aanvaar dat ons dit nie sou terugkry nie. Ek en my buurvrou het egter aangehou bid vir ʼn wonderwerk – en spesifiek dat God die diewe so onrustig sou maak dat hulle die motor aan ons sou terugbesorg. Vir baie mense het dit verregaande geklink!

“Die oggend van my seun se verjaarsdag het ek op pad werk toe opnuut gebid: ‘Here, U weet hoe graag ek en my man die motor aan ons seun wou gee op hierdie dag. Nogtans vertrou ek dat U in beheer is …’

“Toe ek teen vieruur daardie middag by die huis kom, het ons buurvrou my laat weet dat die polisie vroeër die dag daar was en na ons gesoek het. Ons het hulle dadelik gekontak en die nuus ontvang dat my seun se gesteelde motor daardie oggend voor die polisiekantoor in Macassar, ʼn woonbuurt langs die N2 buite Kaapstad, gevind is. Die diewe het dit gedurende die nag met die sleutel steeds in die motor daar parkeer en laat spaander. Al die eer kom God toe! Hy het die onmoontlike moontlik gemaak.”

Leser 2, Bernadette: “My dogter is ʼn student by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) en moet hierdie week registreer. Hoewel ek nie finansieel sterk is nie, doen ek alles in my vermoë om haar te help omdat sy graag haar graad wil verwerf. Ek gebruik gewoonlik my bonus aan die einde van die jaar om vir die registrasie te betaal, maar aan die einde van verlede jaar kon my werkgewer geen bonusse uitbetaal nie. My dogter het die hele week gestres, maar elke keer het ek vir haar gesê: ‘Moenie stres nie. God sal aan ons ʼn uitweg gee.’

“Gister het ons ʼn e-pos van die universiteit ontvang waarin ons meegedeel is dat my dogter se aansoek om ʼn merietebeurs suksesvol was. Sy hoef dit dus nie terug te betaal nie! Ek gaan later vandag universiteit toe om haar te registreer. Ek dank God vir hierdie wonderwerk!”

Brenda en Bernadette is reg. Ons kan God vir die onmoontlike vertrou. Luister na die woorde in Efesiërs 3:20-21: “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe … tot in alle ewigheid. Amen.”

Waarvoor vertrou jy God vandag? Gaan jy soos Brenda en Bernadette aanhou om God te vertrou totdat jy jou deurbraak beleef? Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS