Onthou sy krag en goedheid – Dag 8
Doen dit nou
Bybelteks(te)
SPREUKE 3
JAKOBUS 2
Glo en doen
Hierdie woorde is bemoedigend vir ons almal. In ons menslike natuur is daar ʼn geneigdheid om suinig en selfsugtig te wees in ons gedagtes, woord en daad. Ons vind dit soms moeilik om bly te wees wanneer iemand anders goed vaar en soms is ons vreeslik tevrede as iemand misluk. Ons is ook geneig om ander te kritiseer eerder as om hulle aan te moedig; ons dink eerder negatief oor mense as met ʼn hart vol liefde.
Hierdie spreuke neem egter die teenoorgestelde standpunt in. Soos God se regverdigheid en geregtigheid die lewens van die gelowiges van Israel heeltemal moes oorheers, so moet dit ook wees met vrygewigheid en deernis.
So, as iemand goed gedoen het en ʼn woordjie van aanmoediging verdien, hoekom doen jy dit nie? Dit kos ons niks en wie weet wat daardie “beloning” in dié persoon se lewe tot gevolg mag hê. Daar is baie stories van jong mans en vroue wat deursslaggewende besluite op ʼn kwesbare tyd van hulle lewens geneem het as gevolg van bemoedigende woorde van ʼn vriend, wat uiteindelik weer ʼn seën vir ander mense kon wees. En met al die elektroniese hulpmiddels tot ons beskikking is dit so maklik om iets positief, opbouend en bemoedigend vir iemand te sê wat hard probeer om die regte ding te doen, maar wat miskien op die oomblik baie moedeloos is.
Dit is ook die geval met die voorsiening van materiële hulp. Met die groot nood wat tans oral om ons heers is dit baie moeilik om te weet vir wie om te gee en vir wie nie. Maar dit is nie die probleem in hierdie spreuke nie. Hierdie spreuke handel oor die innerlike spontaneïteit om te wil help. Dikwels probeer ons hard om te regverdig waarom ons nie geld of goedere gee nie – veral met die hoeveelheid bedelaars en swendelaars in ons gemeenskappe. En tog word ons soms bewus gemaak van eerlike behoeftes waar ons kan help, selfs al is dit net ʼn klein bietjie. Die Bybel sê “gee nou” – nie eers môre nie.
Ek het lank gelede ʼn sendelingvriend gehad wat uitgenooi is om die evangelie in ʼn baie behoeftige plek te gaan verkondig. Hy het egter nie geld gehad vir die boot om hom na die plek toe te neem nie. Hy het oor die saak gebid en gewag, maar niks het gebeur nie. Die gevolg was dat hy nie kon gaan nie en hy het die geleentheid gemis. Die volgende dag het hy ʼn brief ontvang van een van sy ondersteuners met die presiese bedrag in die koevert wat hy vir sy reis benodig het. Die ondersteuner het geskryf: “Ek het beplan om die brief gister te pos. Ek het ʼn sterk drang gevoel om dit te doen, maar toe moes ek eers iets anders gaan doen. Ek hoop jy kan hierdie geld vir die evangelie aanwend.” Dit was wonderlik dat die persoon gegee het, maar hy het uitgestel en as gevolg daarvan het ʼn goeie geleentheid verlore gegaan om die blye boodskap te verkondig.
Vergelyk die woorde van hierdie spreuke met Jakobus 2:14-17. Laat ons ons Vader in die hemel nadoen om mense te bemoedig en so ruimhartig en vrygewig wees as wat ons omstandighede dit toelaat.