Pinkstertyd – Dag 1 (25 Junie)
God se Gees maak lewend
Bybelteks(te)
ESEGIËL 37
Ek sal julle terugbring
Dit is dikwels eers wanneer ons die laagste punt in ons lewe bereik wat ons die krag van God se Gees die sterkste ervaar. Jesus Christus het ons immers geleer: Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Ons onthou ook Paulus se bekende woorde: “… want as ek swak is, is ek sterk.”
Die profeet Esegiël beleef ʼn geestelike laagtepunt. Hy ervaar dat hy in ʼn laagte vol geraamtes is. Die hele prentjie spreek van doodsheid en hopeloosheid. Dit is simbolies van die volk Israel in ballingskap. Hulle het moed verloor. Soms voel ons ook so. Ons het nie meer lus om te lewe nie. Ons sien nie kans vir wat voorlê nie. Die hartseer oorweldig ons. Ons voel geestelik gedreineer.
In die Skrifgedeelte wys die Here vir die profeet ʼn situasie wat op die oog af onmoontlik lyk en vra hom om iets te doen wat heeltemal onlogies klink. Hy moet as profeet optree en met die dooie bene praat. God betrek dus vir Esegiël. God doen wonders terwyl ek en jy aangaan met ons verantwoordelikhede as kinders van die Here, al lyk dinge rondom ons ook hoe benard.
Hoe tree ons as kinders van die Here op in droewige situasies? Nie deur onsself te onttrek en boedel oor te gee nie, maar deur aan te gaan met ons verantwoordelikhede as kinders van die Here. God se Gees woon nou in ons en maak ons lewend. Dit laat ons weer vorentoe kyk. Dit maak van ons nuwe mense wat op ʼn nuwe manier leef en optree. God laat uiteindelik wonders gebeur wanneer ons leef met vergifnis, deernis en lydsaamheid. Daar is hoop. Ons sal toenemend God se uitkomste beleef en dit sal gebeur op ander maniere as wat ons verwag.