Tyd is kosbaar – Dag 11
Ons tyd is nie sy tyd nie
Bybelteks(te)
2 PETRUS 3
Een van die vroeë kerkvaders, Augustinus, het gesê dat tyd ʼn gevolg van die skepping is. Voor die skepping het tyd, soos ons dit ken, nie bestaan nie.
Ons wat deel van die skepping is, is tydgebonde. Ewigheid het egter nie sulke beperkings nie. Die Here bereken nie tyd soos ons nie. Dit is miskien die rede waarom die wederkoms volgens Christene te lank neem.
Maar daar is ook kwaadpraters wat die Christelike geloof minag . Hulle is altyd gereed om ons geloof te ondermyn wanneer ons enigsins begin twyfel.
Petrus waarsku die vroeë Christene dat spotters sal vra: “En wat het nou geword van die belofte van sy wederkoms?” (2 Petrus 3:4). Reeds in Petrus se tyd het mense al getwyfel of Jesus weer sal kom en nou, in ons tyd, is daar steeds mense wat twyfel.
Vir ons is dit baie lank gelede dat Jesus die eerste keer na die aarde gekom het en aan ʼn kruis gesterf het om ons van ons sondes te verlos. Was hierdie donker dag in die geskiedenis werklik so lank gelede? Minder as ʼn miljoen dae het verloop sedert die kruisiging en die opstanding.
Petrus sê dat die geduld van God die rede vir die vertraging van die wederkoms is: “Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer” (2 Petrus 3:9).
Dit is ons uitdaging. Ons weet nie wanneer Jesus terugkom nie, maar totdat Hy kom, moet ons getrou en aktief in sy diens wees. Ons moet ons Christenskap uitleef en elke geleentheid aangryp om die evangelie met ander te deel.