Bible Society of South Africa
Neville Turley

Tyd is kosbaar – Dag 14

Laat die kindertjies na My toe kom

Bybelteks(te)

MATTEUS 19

Jesus seën die kindertjies

13Die mense het kindertjies na Hom toe gebring dat Hy hulle die hande moet oplê en vir hulle moet bid. Sy dissipels het met hulle daaroor geraas.

14Maar Jesus het gesê: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.”

MATTEUS 19:13-14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Menseregtedag is die ideale tyd om oor die welstand van kinders in ons land en in die wêreld te besin.

Ons leef in ʼn sondige wêreld waar tallose kinders deur die eeue heen gely het. Baba Jesus is slegs van ʼn gewelddadige dood gered omdat Josef na die waarskuwing van die engel geluister het en met die baba en Maria na Egipte gevlug het.

Die misbruik en mishandeling van kinders duur voort. Ons lees van kinders wat slagoffers van burgeroorloë is, van kindersoldate, kinderprostitute en van mense wat met kinders handel dryf. Die lys van hierdie barbaarse wreedhede wat teenoor kinders gepleeg word, blyk eindeloos te wees.

Die Suid-Afrikaanse polisie het een jaar gerapporteer dat 40% van verkragtingslagoffers in een van die provinsies jonger as 17 jaar oud was.

In sommige patriargale samelewings is vroue ondergeskik aan mans en beklee kinders selfs ʼn laer posisie. Die eeueoue oortuiging dat kinders gesien en nie gehoor moet word nie is ongelukkig ʼn realiteit. Mense se gesindheid teenoor kinders moet verander.

ʼn Pragtige insident in die Bybel illustreer hoe groot ons Verlosser se liefde vir kinders is.

Mense het kindertjies na Jesus toe gebring en gevra dat Hy hulle moet seën en vir hulle moet bid. Die dissipels het die mense gekeer omdat hulle waarskynlik bekommerd was oor Jesus se werklas.

Maar Jesus het onomwonde gesê: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.”

Ons, as volwassenes, is verantwoordelik vir die welsyn van alle kinders, en veral vir diegene wat aan ons onmiddellike sorg toevertrou is. Dit is ʼn groot voorreg, maar ʼn ontsaglike verantwoordelikheid.

Ons kan begin deur elke dag vir hulle te bid en ons hemelse Vader te vra om hulle te seën en te beskerm. Ons kan dit bid in die wete dat God se liefde onbeperk is en vir ewig staan.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS