Bible Society of South Africa
Neville Turley

Tyd is kosbaar – Dag 19

Tyd om proaktief te raak

Bybelteks(te)

MATTEUS 5

14“Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; 15ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. 16Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”

MATTEUS 5:14-16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Tydens die bergrede verklaar Jesus aan sy volgelinge: “Julle is die lig vir die wêreld.” Vroeër in sy bediening het Jesus gesê: “Terwyl Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld” (Johannes 9:5).

Jesus weerspreek nie dit wat Hy vroeër gesê het nie. Hy wat die lig van die evangelie na die wêreld gebring het, vertel nou vir sy volgelinge dat hulle hierdie evangelie moet verkondig aan diegene wat nog in die duisternis leef.

Die bergrede is vir alle Christene. Jesus sê nou vir jou en vir my: “Julle is die lig vir die wêreld.”

Dit is ʼn wonderlike kompliment van Jesus ons Verlosser en dit beteken dat ons proaktief moet wees. Ons Christenskap mag nie so privaat wees dat ons ons geloof “onder ʼn emmer” sit nie. Ons moet die lampe wees wat Christus se liefde vir alle mense laat skyn.

Kortliks: Ons wat Hom volg moet lewens lei wat ander mense begeer en wil nastreef. Nie oor wie ons is nie, maar oor dit wat ons as volgelinge van Jesus Christus het.

Wanneer ons die geleentheid kry is dit belangrik om oor ons Christenskap te getuig, maar onthou, dade sê meer as woorde. Leef jou geloof uit en dit sal ʼn groter impak hê as jou woorde.

Jesus sê ons is die lig vir die wêreld. Sal jy vandag ʼn lamp vir Hom wees?

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS