Bible Society of South Africa
Neville Turley

Tyd is kosbaar – Dag 8

Blye versekering

Bybelteks(te)

1 JOHANNES 5

11En die getuienis behels dít: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun. 12Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.

1 JOHANNES 5:11-12AFR83Maak oop in die Bybelleser

Alle Christene het een ding gemeen: In die een of ander stadium het hulle van Jesus gehoor en in Hom begin geglo.

Deur Jesus gee God aan ons die ewige lewe. Dit is God se geskenk aan ons. Ons het hierdie versekering dat ons vir ewig sal lewe. Wat ʼn ontsagwekkende openbaring.

Hoe reageer ons?

Reaksies hierop verskil van mens tot mens. Die Heilige Gees lei sommige mense om hierdie getuienis met ʼn wye gehoor te deel, terwyl dit vir ander ʼn baie persoonlike saak is.

Blaise Pascal (1623-1662) was onder andere ʼn beroemde wiskundige, ʼn fisikus asook die ontwerper van die eerste rekenmasjien, die “Pascaline”.

Hy het dit waarin hy geglo het op ʼn stukkie papier neergeskryf. Na sy dood is hierdie stukkie papier in die voering van sy klere gevind. Die stukkie papier het hom gedurig herinner aan dit waarin hy geglo het. Hy altyd seker gemaak dat dit in die voering van al sy pakke was.

Hier volg ʼn vrye vertaling van dit wat hy neergeskryf het:

God van Abraham, God van Isak, God van Jakob.

Oortuiging, blydskap, vrede.

God van Jesus Christus.

My God en jou God.

Jou God sal my God wees.

Vergeet die wêreld, vergeet alles, behalwe God.

Hy kan slegs gevind word in die leringe van die Evangelie.

Regverdige Vader, die wêreld het U nie geken nie, maar ek het U geken.

Blydskap, blydskap, blydskap, trane van vreugde.

Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enigste ware God, en die Een wat U gestuur het, Jesus Christus.

Volkome oorgawe aan Jesus Christus.

Ewige vrede vir die voorreg van ʼn dag op aarde.

Mag ek nooit u woorde vergeet nie. AMEN.

Hierdie konstante herinnering dat hy die ewige lewe het, het aan Pascal die blye versekering gegee dat hy dit waarna sy siel op soek was, besit.

Loof die Here dat ons ook daardie blye versekering kan hê.

Bible Society of South Africav.4.25.3
VOLG ONS