Bible Society of South Africa
Hennie Symington

Verandering, Advent en Kersfees – Dag 1

Die reis na buite is ook ʼn reis na binne

Bybelteks(te)

HANDELINGE 20

24Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.

HANDELINGE 20:24AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die besluit om ʼn beroep na Japan aan te neem was enersyds maklik. Dis ʼn besonder ordelike samelewing waar elkeen sy plek ken en oordrewe hoflikheid aan die orde van die dag is. Treine ry op tyd en die strate is silwerskoon want niemand eet op straat nie en daarom dit is nie nodig vir vullisdromme nie.

Die kerk waarheen ons beroep was, was ʼn Engelstalige gemeente in die Gereformeerde/Lutherse tradisie wat al vir meer as ʼn eeu bestaan. Die gemeentelede het uit al vier windrigtings van die aarde bestaan, maar die meeste was afkomstig van Australië, die VSA, Korea, Europa en die Filippyne. Daar was ook heelwat Westerlinge wat met Japannese getroud is en deel wou bly van hulle Christelike tradisie. Gelukkig was daar ʼn paar Suid-Afrikaners ook wat hulle unieke bydrae gemaak het.

Wat ʼn mens opgeval het in die kort tydjie wat ons daar gewoon het, was die absolute toewyding wat die lidmate aan die dag lê in die gemeente. Dit sê egter nog nie waarom ons besluit het om daarheen te gaan nie. As ek moet sê dan is dit eerstens omdat ons, ten spyte van ons “bejaardheid”, nog nie ons avontuurlustigheid prys gegee het nie (hierin is die arme ouman Paulus ook vir ons ʼn voorbeeld – ten minste het ons geriefliker gereis as hy). Maar meer as dit, so ʼn reis na buite bring jou altyd terug na binne – waar jy opnuut kyk na wat in jou hart en siel leef. Dit bied ʼn geleentheid om buite die geykte tradisies en gebruike die Christelike geloof te herontdek as die een geloof wat die wêreld sonder grense omspan, sonder aansiens van persoon. Jy hoef nie wierook te brand, die voorvaders te eer, jou fortuin uit ʼn laaitjie by ʼn Boeddhistiese tempel te gaan soek, of muntstukke in ʼn fontein vol heilige water te gooi om die guns van die gode te wen nie. Jy is vry om lief te hê en te vergewe omdat God jou eerste liefgehad het en omdat Christus jou sondes vergewe het en jou onvoorwaardelik as sy kind aangeneem het. Maar meer as dit lê die uitdaging daarin om in ʼn samelewing wat op die oog af so ordelik en amper sonder sonde blyk te wees, die uniekheid en die vryheid van die Christelike geloof te verkondig en uit te leef.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS