Bible Society of South Africa
Hennie Symington

Verandering, Advent en Kersfees – Dag 10

Die grootste skat ooit!

Bybelteks(te)

1 KORINTIËRS 2

7Wat ons verkondig, is die wysheid van God, die verborge waarheid wat bedek was en wat God van ewigheid af vir ons voorbestem het tot ons ewige heerlikheid.

1 KORINTIËRS 2:7AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wanneer dit by Kersfees kom is jy klaar moeg van alles rondom die hele affêre. Jy sien so op teen die gekuier en die eet en drink terwyl jou siel van die dors vergaan. Die oordadige koop van geskenke in die naam van iemand wat tweeduisend jaar gelede in die eenvoud van ʼn stal gebore is, stuit jou teen die bors maar jy is deel van die mallemeule.

Dit is nie hoe God dit wou gehad het nie. God het sy grootste reddingsplan van stapel gestuur toe Hy sy Seun aarde toe gestuur het. Dit was nie vir Hom maklik om deur die pyn van geboorte te gaan en aan ʼn sondige wêreld blootgestel te word nie ʼn wêreld waar mense hulle nie eens in hul wildste drome kon indink wat dit vir die Messias moes beteken het om van sy hemelse heerlikheid af te sien om tussen ons te kom woon nie.

Nee, God wat mens geword het, is nie net ʼn enkele dag se opwinding en vermaak nie. Dis die grootste wonderwerk ooit – groter as ʼn tuig wat op Mars land of enige popster se vertoning. Dis niks minder as ʼn godswonder nie. Laat ons dus die krip in ons hart bewaar vir volgende jaar en die jare daarop. Kyk verby die tydelike na die ewige waar God reeds vir ons deur sy Seun ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde voorberei het.

Kom ons begin weer: Wanner dit tyd is vir Kersfees moet jy nie daaroor stilbly nie. Jou hart moet spring van vreugde en jy moet jubel saam met ʼn engeleskaar: “Juig die Redder is daar, juig die Redder is daar!”

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS