Bible Society of South Africa
Hennie Symington

Verandering, Advent en Kersfees – Dag 2

Tekens van die tye

Bybelteks(te)

EFESIËRS 4

23Julle gees en gedagtes moet nuut word; 24lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.

EFESIËRS 4:23-24AFR83Maak oop in die Bybelleser

Is jy sat vir dieselfde roetine dag na dag? Wat het geword van al ons mooi voornemens vir die jaar? Het ek my dan nie voorgeneem om dinge anders te doen in die nuwe jaar nie? En hier staan ek steeds sonder dat iets noemenswaardig verander het.

Die veelbesproke en wyse skrywer van The Origin of Species, Charles Darwin, het gesê: “It is not the strongest of the species that survives, nor the most intelligent; it is the one most adaptable to change.” Indien jy jou aan hierdie stelling meet, hoe vaar jy in die lewe?

Is jy bereid om jouself toe te laat om te verander?
Is jy bereid om te aanvaar dat jy nie al die antwoorde het nie en dat daar meer as een manier is om met die wat naaste aan jou is te werk te gaan?
Wat vat dit om te verander?

Die eerste stap is om die noodsaaklikheid vir verandering raak te sien, en tweedens om oop te wees vir ander insigte. Luister na die wat die naaste aan jou is – wat sê hulle van die manier waarop jy met ander omgaan? Wat sê jou hart vir jou? Kyk in die spieël van God se Woord om jouself te herken in die lig van die Skrif. Hoe lyk die prentjie wat jy daar sien?

Hier is maar net ʼn paar maniere wat jy kan oorweeg om te verander:

  • Verander ʼn negatiewe manier van dink in ʼn positiewe manier van dink.
  • Vervang jou behoefte om te beheer met die bereidwilligheid om saam te werk.
  • Verruil ʼn gees van verwerping vir ʼn gees van aanvaarding.
  • Verander veroordeling in vergifnis.
  • Omskep verstoktheid in groei.
  • Verander verveeldheid in verwondering.
  • Kies vrygewigheid bo inhaligheid.
  • Omskep woede in ʼn gees van openheid en begrip.
  • Verander hardvogtigheid in omgee.
  • Omskep onrus in ʼn gevoel van kalmte.
  • Verruil selfsug vir dankbaarheid.
  • Maak staat op God se krag om jou te verander.

“Wees sterk en vol moed.” Hierdie woorde aan Josua op die vooraand van sy intog in die beloofde land word dikwels aangehaal wanneer jy te staan kom voor ʼn onbegonne of moeilike opdrag, of wanneer jy gekonfronteer word deur ʼn vyand waarteen jy nie opgewasse is nie. Wag op God. Hy is jou krag en jou sterkte – ook wanneer tye verander en jy nuut moet begin.

Bible Society of South Africav.4.27.6
VOLG ONS