Die jaloerse God – 12 Junie 2020
Deur Ben Fourie
Bybelteks(te)
EKSODUS 20
n die 1933/1953-vertaling van die Bybel word die Hebreeuse naam El Kanna vertaal met jaloerse God terwyl die 1983-vertaling, soos hier bo aangehaal, praat van God wat onverdeelde trou eis. Die twee vertalings kan klink of dit van twee verskillende dinge praat, maar gee gesamentlik eintlik op besondere wyse presies weer wat met die gebod bedoel word.
Die gebod praat oor beelde wat aanbid word en die Israeliete het dit onmiddellik verstaan, want al die omringende volke en ook die mense van Egipte waarvandaan hulle gekom het, het afgode in die vorm van beelde aanbid. In die Ou Nabye-Ooste van daardie tyd was monoteïsme of te wel die aanbidding van net een God, en dan nog ’n onsigbare een, ’n vreemde idee. Die volke het ’n verskeidenheid van sigbare gode aanbid.
Die God van Israel is egter nie tevrede om maar net een van die baie gode te wees nie. Dwarsdeur die Ou Testament sien ons telkemale dat wanneer God sy volk straf, is dit omdat hulle agter vreemde gode aangeloop het. God eis onverdeelde trou, Hy laat homself nie met ander gode of dinge deel nie. Hoe ernstig die saak is, word baie mooi deur die sterk woord “jaloers” weergegee. God waak jaloers oor die feit dat Hy die Enigste ware God is.
Die kerk het deur die eeue ook jaloers gewaak oor die geloof, want dit is op hierdie idee dat die Christendom en kerk gebou is. Deesdae hoor mens egter al meer dat mense wegbeweeg van die manier van glo af. Baie noem hulleself nog spiritueel, maar glo nie meer aan die een God van die Bybel nie. Elkeen vind maar sy of haar saligheid op hulle eie manier.
Dit kan egter nie, daaroor is die Bybel baie duidelik. Hy waak vandag steeds jaloers oor die feit dat Hy die enigste ware God is en eis ook van jou en my onverdeelde trou.
Gebed: Here, help my asseblief om steeds net in U as die enigste ware God te bly glo te midde van ’n wêreld wat al meer anders dink en doen. Amen