Bible Society of South Africa

God wil ons help – 17 Februarie 2021

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

JEREMIA 29

11Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!

JEREMIA 29:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

NAHUM 1

7Die Here is goed,

Hy is 'n toevlug in tyd van nood,

Hy sorg vir dié wat by Hom skuil.

PSALMS 86

5U is goed, Here, U vergewe altyd weer,

U is getrou teenoor dié wat na U roep om hulp.

Sowat twee weke gelede het Jockey Mans uit Upington geskok na Yodré, ’n asmalyer voor hom gekyk wat sukkel om asem te haal. Sy moes dringend by die hospitaal uitkom.

Jockey: “Asemnood is iets wat my senuweeagtig maak. Ons eie dogtertjie het 30 jaar gelede breinskade opgedoen weens ’n suurstoftekort. Die oomblik toe ek Yodré sien wat na haar asem snak, het ek geweet dat ons haar so gou moontlik by die hospitaal moes kry. Nie een van haar asmapompies wou verligting bring nie.

“Omdat Yodré se weermagpa ontplooi is na ’n ander dorp, loseer sy by ons sowat 17km buite Upington. My vrou het haar in die voertuig ingehelp en ek en sy het dadelik dorp toe vertrek. Op pad soontoe het ek desperaat gebid: ‘Vader, ek is in die nood. Stuur asseblief ’n verkeersbeampte wat my deur die verkeer kan help. Ek moet hierdie kind so gou moontlik by die hospitaal uitkry.’

“Om by die Militêre hospitaal te kom, moes ons deur die dorp gaan. Daar is baie verkeersligte. Die alternatief is om om die dorp te ry, maar dit is ’n industriële gebied met heelwat groot trokke. Ek het nie geweet of sy dit sou maak as daar ’n vertraging in ons roete is nie.”

“In die verte het iets vir my gelyk soos ’n verkeersbeampte met ’n blou lig op die motor. Ek het tot teenaan hulle gery. Daar was sommer vier beamptes!

“Die oomblik toe hulle Yodré sien, het hulle geweet dat ons probleme het. Ek het hulle ingelig dat ek hulle hulp benodig en sommer weer dadelik vertrek. Hulle het my van agter af ingehaal en verby my gery. Omdat hulle nie ’n sirene in die voertuie gehad het nie, het die verkeersbeampte aan die passasierskant van die voertuig uitgehang en die verkeer gereguleer, terwyl die bestuurder die aankomende verkeer van sy kant af gereguleer het. Hulle het my dan keer op keer gewys waar ek kon verbygaan.

“Met hierdie manne se hulp kon ons Yodré betyds by die hospitaal uitkry – en ’n lewe is gered. My hart is met dankbaarheid gevul as ek terugkyk en besef dat God werklik teenwoordig was. Ek het gevra vir een ‘speed cop’; Hy het my sommer vier gegee! Alle eer kom Hom toe!”

Jockey is reg. God wil ons help. In Jeremia 29:11 lees ons: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!” In Nahum 1:7 staan geskryf: “Die Here is goed, ‘n toevlug in die dag van benoudheid, en Hy ken die wat by Hom skuil.” En in Psalm 86:5 lees ons: “U is goed, Here . . . U is getrou teenoor dié wat na U roep om hulp.”

Het God vir Jockey en Yodré haastig dorp toe gesien ry? Het Hy Jockey se noodgebed gehoor? Was dit “toevallig” dat die verkeersbeamptes juis daardie oggend op daardie punt gestasioneer was?

God sien ons elkeen raak. Hy hoor ook steeds elke gebed wat ons in geloof bid. Kom ons dank Hom dat Hy nooit sluimer en slaap nie. Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie dat U my lief het en dat U omgee oor ons. Help my asseblief vandag met (noem jou uitdaging). Help my ook om my oë oop te hou vir U goedheid rondom my. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS