Bible Society of South Africa

Hy ken ons pyn – 19 Februarie 2021

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

ROMEINE 8

28Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.

ROMEINE 8:28AFR83Maak oop in die Bybelleser

ROMEINE 8

38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

ROMEINE 8:38-39AFR83Maak oop in die Bybelleser

Twee tragedies kort ná mekaar het Stefan Lessing op ’n punt gebring waar hy sy lewe wou beëindig. Hy was gebroke. Hiér het hy egter God se genade, liefde en troos ervaar.

Stefan: “Om terug te gaan na die waterval was ’n moeilike besluit. Iets binne my het my egter teruggedryf. Ek wou afskeid neem. Ek wou sin probeer maak uit die gebeurtenis wat my lewe só ingrypend verander het.

“’n Dag voor my seun, Waldo se 11de verjaarsdag, het hy in ’n fratsongeluk van die waterval afgeval en gesterf. Ek onthou die skok en magtelose gevoel waarmee ek moes toekyk hoe sy liggaam teen die afgrond aftuimel. Wat bedoel was om ’n onvergeetlike pa-en-seun stapnaweek saam met ’n groep vriende te wees, het geëindig in ’n gebeurtenis wat amper my lewe ook gekos het.

“n Paar aande ná Waldo se dood het ek in die bad gelê en dink het aan maniere om my lewe te beëindig. Ek was gebroke en vol selfverwyt. Dit was die tweede tragedie wat my lewe geruk het. Eers my huwelik wat in ’n egskeiding geëindig het (terwyl ek as lewensafrigter passievol is om ander te help om gesonde verhoudings te bou). Nou my seun. Ek het vrae vir God gehad terwyl die donker gat rondom my al dieper geword het. In daardie oomblik het God my aan my twee dogters kom herinner. Sou hulle nou sonder ’n pa ook moes grootword?

“Terug by die waterval 3 maande ná Waldo se dood het ek onbedaarlik gestaan en huil terwyl my broer en vriende my vertroos het. Meteens het ek bewus geword van God se teenwoordigheid. Vir lank het dit gevoel asof niemand my seer om my enigste seun te verloor verstaan het nie. In daardie oomblik het ek geweet dat God verstaan. Hy het self sy enigste Seun verloor. Inteendeel, Hy het sy Seun vir ons opgegee sodat ons nie verlore hoef te gaan nie. In my gees was sy woorde: ‘Ek het my Seun vir jou opgegee sodat jy my as jou Abba Vader kan leer ken en dat jy in My ’n nuwe lewe kan vind.’ Hierdie ervaring het meer genesing gebring as wat enige woorde kan beskryf.

“Vandag is dit twee dekades later. Stééds kan ek getuig dat dit net God se troos, liefde en genade is wat my uit daardie plek van wanhoop kom haal het om vandag hoop aan ander te kan bring. Twee jaar ná Waldo se dood is en en Adele getroud. Waar dokters gesê het swangerskap is onmoontlik vir ons, het ons vandag drie kinders. Ek kyk terug en weet dat God werklik enige gebroke hart kan genees!”

Stefan is reg. God kan en wil ons genees. In Romeine 8:28 lees ons: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom lief het . . .” Ook in Romeine 8:38-39 staan geskryf: Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

Kom ons sê opnuut vir God dankie dat Hy sy Seun vir ons gegee het. En kom ons herinner mekaar dat ons steeds na hom kan gaan in ons desperaatheid en seer met die versekering dat Hy ons pyn verstaan – en ook deur sy liefde, genade en teenwoordigheid genees. Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie dat U naby my is in my hartseer, ontnugtering en pyn. Maak my asseblief vandag bewus van U teenwoordigheid. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS