Bible Society of South Africa

Almal behoort aan God - 21 Junie 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

DIE OPENBARING 7

'n Groot menigte

9Hierna het ek 'n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan. Hulle het wit klere aangehad, en daar was palmtakke in hulle hande. 10Hulle het hard uitgeroep: “Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!”

DIE OPENBARING 7:9-10AFR83Maak oop in die Bybelleser

Met die oopmaak van die eerste ses seëls word dit wat in die boekrol geskryf is al meer sigbaar. Dit is die geskiedenis van die kerk op aarde, ‘n geskiedenis van dikwels moeite en stryd. As ons die kerkgeskiedenis bestudeer sien ons dat die kerk en haar lidmate nooit werklik vrede geken het nie. Daarvan kan die gelowiges in die tyd toe Openbaring geskryf is deeglik getuig, maar ook ons kan getuig van die stryd van die kerk teen dit wat sondig en verkeerd is in die wêreld.

In ons teks van vandag en die daaropvolgende gedeelte, sien ons ‘n nuwe visioen ontvou, naamlik die van die oorwinnende kerk in die hemel. Hierdie keersy van die kerk is nodig om elkeen wat nog op die aarde worstel om die taak van die kerk uit te voer, te versterk en te bemoedig.

Die visioen begin met ‘n ontelbare groot menigte van mense wat rondom die troon van God en die Lam vergader. In Openbaring 7:13-14 sien ons dat een van die ouderlinge vir Johannes vra of hy weet wie die mense is. Toe Johannes antwoord dat hy nie weet nie, het die ouderling aan hom verduidelik: “Dit is dié wat uit die groot verdrukking kom.” Johannes se lesers sou verstaan dat hy hier verwys na diegene wat vervolg en doodgemaak is deur die Romeine. Ons wat eeue later die woorde lees, kan dit ook sien as verwysing na almal wat deur die eeue heen sou stry ter wille van God se kerk en wat bly vashou aan die ware geloof in Jesus.

Wie is dit almal? Ons teksvers maak dit duidelik dat herkoms nie saak maak nie. Die hemelse skare kom uit elke volk en taal en nasie, ook jy en ek. Kenmerkend van God se volgelinge wat nou oorwinnend sy lof kan besing is dat hulle gewas is deur die bloed van Christus soos gesimboliseer deur die wit klere wat hulle dra. Die palmtakke wat hulle dra was ‘n teken van die hulde wat hulle bring aan Jesus wat die oorwinnaar is en herinner aan sy intog in Jerusalem waar die skare hom ook as koning verwelkom het.

Gebed: Baie dankie dat ek nou reeds deel is van die groot skare om u troon. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS