Dankbaarheid: ‘Myne dag!’ - 1 Oktober 2024
Deur Charlea Grey
Bybelteks(te)
PSALMS 118
Vanjaar se Kaapse winter was lank en koud en nat. Dit het party weke vir dae aaneen gereën. Met tye kon ek voel hoe die grys weer begin oorspoel na my gemoed.
Maar net voor die weer en al die uitdagings wat daarmee gepaardgaan, soos bondels klam wasgoed, verkeersknope en ’n gefrustreerde peuter wat in die huis vasgevang voel, my begin onder kry het, het die kouefront oorgegaan en is ons met ’n sonskyndag beloon.
Een so helder oggend, ná ’n hele klompie mistroostige dae, het ek op ons huis se stoep gaan staan. Ons huis, wat teen ’n bult is, kyk uit oor ’n groen strook met wingerde teen die heuwel. “Kyk net hoe mooi is dit. Kyk net hierdie mooi dag,” sê ek vir die tweejarige op my heup. Sy kyk rond en antwoord opgewonde: “Myne dag!” Ek kon nie help om te glimlag nie en het heeldag haar helder stemmetjie in my kop gehoor.
Is dit nie die houding waarmee ons elke dag moet aanpak nie? Elke dag is immers ’n geskenk van God en ’n kans om die lewe aan te gryp.
Ek staan so dikwels op en dink ek moet net deur vandag kom – ek moet net oorleef. En so gaan ’n dag verby en nog en nog een …
Wat sal gebeur as ek opstaan en sê vandag is my dag? Vandag is ’n wonderlike, mooi, geseënde dag. My dag, van God af. My dag om te geniet en aan te gryp en die beste van te maak. Selfs al is dit dalk ’n grys, grou dag.
En as dit wel ’n simpel dag is, soos wat dit maar dikwels is want die lewe is maar die lewe – een wat nié net lekker is nie, onthou – die son sál weer skyn. Daar sal weer ’n dag kom wat jy kan opkyk na die helderblou lug en sê: “Myne dag!”
Gebed: Vader, dankie vir hierdie dag. Dankie vir hierdie geskenk wat ek kan aangryp. Dankie vir die wonder van die lewe en u hand in die mooi van die wêreld. Amen