Bible Society of South Africa

Groei: Groei jy waar jy geplant is? – 20 Maart 2023

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

JOB 14

8Al word sy wortels oud in die aarde

en al gaan sy stam dood in die grond,

9spruit hy weer uit as hy net water ruik,

en groei sy takke asof hy pas geplant is.

My laerskool se leuse was “Groei”. Nogal eenvoudig né? Dit was heel gepas want die laerskool is geleë in ’n boomryke buurt in Kempton Park en die straatname rondom die skool is alles bome se name. Ek het dít natuurlik nie besef toe ek op skool was nie. Vir my het die leuse bloot gepas by die skoolwapen – die van ’n blou boompie.

Ek het wonderlike herinneringe aan my laerskooljare maar ek onthou veral hoe ons destydse skoolhoof tydens ’n saalopening gepraat het oor hoe ons moet groei. Ek gaan nou doodeerlik wees – ek kan onthou hy het gesê ons moet groei en dat dit belangrik is, en ek is seker daar was iets oor boompies wat gebuig moet word terwyl hulle jonk is, maar oor die presiese konteks van sy praatjie kan ek nie veel meer onthou nie. Hoe dit ook al sy, ek onthou sedertdien dat dit altyd belangrik is om aan te hou groei, maak nie saak waar jy jou bevind nie.

Daar is verskillende maniere waarop ons in die lewe kan groei – persoonlik, in jou loopbaan en vaardighede, en dan ook geestelik. Tog glo ek dat geestelike groei dikwels tot verdere groei lei, ook in die ander aspekte van ons lewens.

Dit is mos soms so dat jy voel jou lewe is nie presies soos wat jy dit sou wou hê nie. Dalk voel jy vasgevang in ’n beroep of werkplek waarvan jy nie hou nie, dalk woon jy op ’n dorp waar jy nie wil wees nie, dalk is daar iets anders waarna jy streef, iets wat jy meen jou lewe “beter” sal maak of jou lewe uiteindelik sal “uitsorteer”. Maar dit is nie altyd so maklik om hierdie dinge dadelik te verander of reg te kry nie.

Kom ons probeer daarom, om ten spyte van ons omstandighede, geestelik te groei. Kom ons probeer om te groei waar ook al ons geplant is. Kom ons gee ons wortels water – ons water dit met God se Woord. Die wonderlike is, maak nie saak wat nie, die rigting waarin jy gaan groei, is boontoe. En wie weet waarheen dit jou verder gaan lei …

Gebed: Here God, dankie dat u Woord my siel kan voed, maak nie saak wat my omstandighede is nie. Help my om aan u Woord vas te hou en aan te hou groei in my geloof. Help my om te groei waar ek geplant is. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS