Bible Society of South Africa

Moenie ander veroordeel nie - 25 November 2024

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

MATTEUS 7

Moenie oor ander oordeel nie

1“Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; 2met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.

3“Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? 4Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal,’ en intussen is daar 'n balk in jou eie oog? 5Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal.

MATTEUS 7:1-5AFR83Maak oop in die Bybelleser

Almal van ons maak foute. Paulus het dit herhaal in Romeine 3:12: “Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie.” Daar is nie een mens wie se saak met die Here reg is omdat hulle so goed doen op hulle eie nie. Almal van ons het die Here se genade nodig om gered te word, en om nuwe mense in Christus te kan wees. (Lees 2 Korintiërs 5:17)

Wanneer ons al ‘n tyd lank kinders van die Here is, het ons hopelik gegroei in die pad van heiligmaking. Die Heilige Gees is besig om ons dag na dag nuut te maak, sodat ons al hoe meer soos Jesus sal lyk. Ja, mense wat lankal gelowiges is, behoort meer soos Jesus te lyk as die persoon wat pas tot geloof gekom het. In hierdie konteks is die opdrag belangrik om nie te oordeel nie. Ons is wat ons is slegs deur genade. Ons is niks beter as enige ander mens nie. Die dinge wat ons verkeerd doen, is dalk net minder opsigtelik as dié van ons naaste.

Daar is ‘n plek vir liefdevolle teregwysing in die Bybel. Ons help mekaar om te groei na die beeld van Christus toe. Daar is ‘n manier om dit te doen. (Byvoorbeeld 1 Timoteus 5:1-2)

Daar is ook plek vir oordeel in die Bybel. Dit is die verantwoordelikheid van die staat om wet en orde te handhaaf in die gemeenskap (Lees Romeine 13). Regters word aangestel om te oordeel, dis hulle Godgegewe taak. Maar ons teks vir vandag is op ons elkeen in ons persoonlike lewe van toepassing. Geen mens word deur die oordeel van ‘n ander op die regte pad gelei nie. Ons kan wel seker maak ons eie lewe getuig van die goedheid van die Here. Ons kan deur die Here gebruik word as mentors vir jonger gelowiges. Ons kan binne die ruimte van ‘n persoonlike verhouding, met nederigheid en met liefde wys op dinge wat verkeerd is. Maar die reg om ‘n ander te oordeel, dat hulle voel of God se genade nie vir hulle beskikbaar is nie, dit kom ons nie toe nie.

Kom ons neem die positiewe van hierdie vers vandag – ons gaan leef ‘n lewe wat God verheerlik, na wie jonger gelowiges kan opkyk. Kom ons wees daardie liefdevolle voorbeelde van God se genade in ons gemeenskappe. Dit sal ‘n baie meer positiewe koersverandering tot gevolg hê as woorde van veroordeling.

Gebed: Here, U het soveel genade aan my bewys. U stap met soveel geduld saam met my die pad. Leer my om ook met geduld en deernis te werk waar ek dink ander mense verkeerd optree. Mag ek altyd in liefde ‘n voorbeeld stel, en mag u Gees mense op die pad van waarheid lei. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS