Bible Society of South Africa

Op watter fondament bou jy jou lewe? - 29 November 2024

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

MATTEUS 7

Die twee fondamente

24“Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met 'n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. 25Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots. 26En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met 'n dwaas wat sy huis op sand gebou het. 27Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.”

MATTEUS 7:24-27AFR83Maak oop in die Bybelleser

Elkeen van ons is besig om ‘n lewe te bou. Ons elkeen het ons drome en ideale. Ons swoeg op een of ander manier om by daardie drome uit te kom. Ons doen dit in ‘n tyd waarin daar so baie uitdagings is. Lewenskoste het baie duur geword. Ons het maar 70 of 80 jaar om ons drome waar te maak en uit te leef. Terwyl ons so swoeg en sweet is daar ‘n waarskuwing waarmee ons hierdie reeks afsluit. Daar is ‘n storm op pad … Elkeen van ons se bouwerk gaan eendag getoets word. Daarom waarsku Jesus ons betyds: op watter fondament is jy besig om jou lewe te bou?

Jesus het gekom om die lewe vir ons te bring, lewe wat vir altyd hou. Hy het kom vertel van die koninkryk van God, en Hy het ons genooi om Hom te volg as sy dissipels op die pad van die lewe. Later sou Hy ook met sy lewe aan die kruis betaal om sy liefde vir ons te bewys. Jesus sê as ons hierdie woorde van Hom hoor, en daarvolgens handel, dan is ons soos iemand wat sy huis op die rots bou. Dit gaan nie net om te hoor wat Jesus sê nie, dis hoe ons daarop reageer wat die verskil maak. Wanneer ons sy woorde van liefde en lewe hoor, reageer ons met geloof daarop. Ons gee oor. Ons bou ons lewens op sy fondament. Wanneer die storms van die lewe toeslaan, dan bly ons geloofshuis staande.

Maar daar is so baie mense wat op die fondament van hulle eie EK bou. Hulle sal self regkom, hulle het die Here nie nodig in hulle lewe nie. Hulle sal met hulle eie kragte en talente hulle lewens bou soos hulle dit graag wil hê. So ‘n lewenshuis kan baie indrukwekkend lyk, die Here het mense met baie talente geseën, al glo hulle nie in Hom nie. Mense wat Jesus se woorde hoor, en onaangeraak verbystap, is soos die dwaas wat sy huis op die sand gebou het. Wanneer die storms van die lewe tref, tuimel pragtige huise inmekaar en word vernietig. Lewens val inmekaar in krisistye wanneer daar nie ‘n stewige fondament van geloof is nie. Dit hoef nie so te wees nie. Ons het die woorde van Jesus ontvang. Wanneer ons daarvolgens handel, sal ons die toets van die tyd deurstaan, sê Jesus. Ons bou ons lewens op die Rots van die eeue, ons sal veilig wees, al raak die storms hoe rof rondom ons.

Gebed: Here Jesus, U is my Rots op wie ek my lewe bou. Dankie vir u woorde wat lewe bring. Help my om aan U vas te hou, en op U te vertrou wanneer die storms van die lewe rondom my woed. Dankie dat ek altyd by U veilig is! Amen

Baie dankie dat u hierdie maand weer saam gereis het deur die Woord! Mag die Here u op mooi paaie lei!

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS