Bible Society of South Africa

Opregte geloof, of gevaarlike speletjies? - 5 November 2024

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

MATTEUS 6

As julle bid

5“Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg.

Daar is ‘n groot verskil tussen opregte geloof, en skynheiligheid. In hierdie hoofstuk waarsku ons Here Jesus vir die eerste lesers oor die invloed wat die Fariseërs in hulle gemeenskap gehad het. Die Fariseërs was ‘n godsdienstige party, wat hulleself beskou het as die morele polisie van die gemeenskap. Hulle hele geloof was gebou op hulle eie interpretasie en toepassing van die Wet van Moses. Maar hulle het lankal die hart van geloof, die verhouding met die lewende God, verloor. Vir hierdie mense was dit alledaags om in die openbaar te bid, in die sinagoges en op die straathoeke, sodat die mense hulle kon raaksien. Hulle gebede was dikwels hoogmoedig, soos die gelykenis van die Fariseër wat die Here gedank het dat hy nie so sleg soos die tollenaar langs hom in die tempel was nie. (Lukas 18:10-13)

Dit klink vir ons vandag vreemd dat daar sulke professionele gelowiges kon wees, wat hulle geloof beoefen het om raakgesien te word. Hulle lewens het nie hulle woorde van geloof bevestig nie. Dit is skynheiligheid om voor te gee jy is ‘n kind van God, maar jy stap nie die pad van Jesus voluit nie. Ons kry dit vandag nog. Dit is skrikwekkend hoeveel keer bedrieërs Bybelversies op hulle skryfbehoeftes het waarmee hulle mense mislei. Toe ek jonger was, was dit ‘n gewoonte om ‘n plakker met ‘n vissie op jou kar te sit, om te sê: Ek volg vir Jesus. Of ‘n armbandjie te dra wat sê “WWJD- What Would Jesus Do?” Sommiges dra ‘n kruisie om die nek. Daar is niks verkeerd daarmee nie as jy uitleef dit wat jou vissie, of jou armbandjie, of jou kruisie werklik voor staan.

Godsdiens in die openbaar om net deur mense raakgesien te word, is skynheilig. Die Matteus-evangelie doen baie moeite om skynheiligheid uit te wys as iets wat die Here haat.

Daarteenoor, staan ‘n opregte wandel saam met die Here – ‘n man of ‘n vrou wat werklik vir die Here lief is, en Hom wil eer in alles wat hulle doen. Die fondament van so ‘n lewe is nie die applous van mense nie, maar die eerlike behoefte om God te verheerlik in alles wat ek doen. So ‘n lewe is ‘n lewe van gebed, en ons gaan môre bietjie dieper daarop ingaan. Dit lyk anders as die gebed van die skynheilige.

Gebed: Here, bewaar my van elke vorm van skynheiligheid. Kom toets my hart, kyk of ek nie dalk op die verkeerde pad is nie, en lei my op u pad. Mag my geloof uit ‘n lewende verhouding met U groei, mag dit U verheerlik en my naaste se lewe beter maak. Mag my gebede U verheerlik, en nooit daarop gerig wees om ander te beïndruk nie. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS