Bible Society of South Africa

Soek dit maar op Google? - 24 Mei 2023

By Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

SPREUKE 21

30Teenoor die Here geld geen menslike wysheid, insig of besluit nie.

SPREUKE 21:30AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons almal moet van tyd tot tyd moeilike besluite neem wat wysheid en insig vra. Watter loopbaan moet ek volg, waar moet ons woon, watter skool moet ek vir my kinders kies, is alles besluite wat ek die afgelope jare moes neem. Ek het raad gesoek by vriende wat ek vertrou, Google voortdurend geraadpleeg en lysies met voor- en nadele gemaak.

Ten spyte van al my pogings om kennis in te win en raad te soek, was ek steeds onseker en oorweldig deur die belangrikheid van die besluite. Spreuke 21:30 het my egter laat besef dat geen menslike wysheid of raad kan teen die Here standhou nie.

In ons soeke na wysheid en insig wend ons ons dikwels na menslike bronne of tegnologie vir leiding. Ons soek raad by ander, doen breedvoerig navorsing, en maak staat op ons eie insig en ondervinding. En alhoewel dit alles voordelig kan wees en daar sekere dinge is waarmee Google ons kan help, kan dit nooit die wysheid en raad vervang wat van die Here kom nie. Sy wysheid, verstandigheid en raad is volmaak.

Spreuke 21:30 verseker ons dat dit nie saak maak hoe wys ons is of oor hoeveel kennis ons beskik nie of hoe gevorderd tegnologie is nie, die finale gesag berus by God. Sy wysheid bring duidelikheid in die mees komplekse situasies, en sy raad lei ons op die regte pad. Wanneer ons harte vir Hom ontvanklik is, kan ons Hom vertrou om ons op elke tree van die lewenspad te lei en die wysheid wat ons benodig aan ons te gee.

Gebed: Hemelse Vader, ek kom vandag na U in die wete dat u wysheid en insig my eie ver oortref. Wanneer ek besluite moet neem en leiding soek, help my om in nederigheid u wysheid bo alles te soek. Open my hart om u raad te ontvang en skenk aan my die vermoë om u stem te herken. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS