Bible Society of South Africa

Waarom is jy so bekommerd? - 22 November 2024

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

MATTEUS 6

31“Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. 32Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. 33Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

MATTEUS 6:31-33AFR83Maak oop in die Bybelleser

Lees gerus die hele gedeelte, van Matteus 6:25-34 deur.

Ons het gister gelees ons kan nie God en Mammon terselfdertyd dien nie. Ons kan nie voluit leef om rykdom te versamel, en dan nog dink dat ons die Here ook so ‘n stukkie van ons lewe wil gee nie. Die uitdaging gister het juis nie gegaan net om ryk te wees nie, maar om te probeer oorleef en elke dag se rekeninge te betaal. Dit raak die meeste van ons direk, want min van ons is in die posisie dat ons nooit bekommerd oor ons finansies is nie. Dit is so normaal om soms bekommerd oor ons toekoms te wees, veral wanneer die ekonomie sulke moeilike tye beleef.

Ons het gekies om die Here se pad te stap, en ons vertroue in Hom te plaas. Dit bly ‘n uitdaging om te onthou wie ons is, en aan wie ons behoort, wanneer die lewe se sorge ons tref.

In Matteus 6:32 herhaal Jesus die belofte van Matteus 6:8: Ons Hemelse Vader weet wat ons alles nodig het.

Petrus getuig in 2 Petrus 1:3 “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag.”

Jesus belowe dit ook hier in vers 33: “Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”

Ek dink elkeen van ons het soms die ervaring dat ons nie alles het wat ons graag wil hê nie. Ons kry ook nie alles waarvoor ons bid nie. Die vrae wat vandag se teks vra is: Volg jy regtig die Koning met jou hele lewe? Is jy ernstig daaroor om sy wil te soek, en is jy bereid om gehoorsaam te volg waar Hy lei? Is jy besig om sy koninkryk te dien met jou gawes, jou geleenthede en tyd? Dan geld die belofte dat Hy sal gee wat jy nodig het, om te lewe, en om Hom te dien. Dit wat jy volgens sy wil vra, sal Hy gee, het Jesus belowe. Jesus se belofte gaan oor oorlewing en bediening, nie weelde en rykdom nie.

Ons word vandag uitgedaag om te groei in ons geloof: vanaf bekommernis na vertroue in die Here.

Gebed: Here, U ken my hart. U sien raak wanneer ek onrustig raak oor die uitdagings in my lewe. Soms, wanneer die sorge van die lewe my tref, dan sukkel ek om te vertrou. Help my om aan U vas te hou, bring U asseblief die uitkoms op daardie uitdaging waarmee ek vandag sukkel. Laat u koninkryk vandag in my lewe deurbreek, en laat u wil geskied in my. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS