Bible Society of South Africa

Wie dien jy regtig? - 21 November 2024

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

MATTEUS 6

God en Mammon

24“Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”

MATTEUS 6:24AFR83Maak oop in die Bybelleser

In die Bergrede (Matteus 5-7) leer Jesus ons van twee verskillende koninkryke, twee paaie, twee fondamente waarop ons ons lewens bou. Êrens langs ons lewenspad kom ons by ‘n vurk, waar ons ons koers moet kies wat ons gaan stap. ‘n Mens kan nie wydsbeen op altwee paaie stap nie, hulle gaan nie in dieselfde rigting, of na dieselfde eindbestemming toe nie.

Aan die een kant is die koninkryk van die wêreld. Dis waar ons almal gebore is. In hierdie wêreld dink ons ons is ons eie baas. Ons dink ons maak ons eie keuses, gegrond op wat ons dink in ons beste belang is. Maar die Bybel noem hierdie die toestand van duisternis. Jesus waarsku in vanoggend se teks dat Mammon in beheer van die wêreld se denke is. Mammon is nie noodwendig ‘n persoon nie, in Hebreeus is dit die woord vir geld, in moderne Hebreeus vir rykdom. Die Assiriërs het wel so ‘n afgod met hierdie naam gehad, en dalk was dit steeds ‘n bekende term na die eerste ballingskap in die geheue van Israel se mense gewees. Wat Jesus hier waarsku, is dat hierdie wêreld se sisteem, gebou rondom die versameling van rykdom, ‘n mens kan insluk. Jy kan so besig gehou word met die stryd om net daagliks te oorleef, dat dit later al is waarvoor jy lewe. Die gevaar is nie rykdom as sulks nie, dit kan net so gevaarlik wees om net te probeer oorleef en jou rekeninge te probeer betaal. Dis ‘n werklike gevaar in elkeen van ons se lewe wanneer ons oorlewingstryd al ons tyd en aandag in beslag neem.

In die Bergrede gee Jesus keer op keer die alternatief. Teenoor die duisternis het Hy gekom om die Lig vir die wêreld te wees (Johannes 1:9) Ons word geroep om in die lig te kom lewe, om Jesus te volg as sy dissipels. Dan leef ons in die koninkryk van God. Die Here is ons eerste liefde. Ons gee ons lewe se beheer oor aan Hom. Ja, ons leef nog steeds in hierdie wêreld, en ons moet nog steeds ons rekeninge betaal. Waar Hy Here is, leef ons en doen ons alles tot sy eer. Paulus het dit so mooi beskryf in 1 Korintiërs 10:31 “’Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.”

Dis die punt van hierdie teksvers. Ons doen alles in die lewe vir onsself, en ons eie belange. Of ons gee beheer aan die Here oor, en ons lewe tot sy eer in alles wat ons doen. Die eerste keuse hou ons tydelik aan die gang, die tweede keuse bring ‘n ewigheidsperspektief in alles wat ons doen.

Gebed: Here, wanneer ek hierdie teks lees, besef ek dat daar ‘n vurk in die lewenspad is, wat my voor ‘n keuse bring. Ek kies om U te volg, en U te verheerlik met alles wat ek in my lewe doen. Dankie dat ek U dan raakloop oral in my dag, by my huis, by my werk, in die verkeer, oral is daar tekens van u sorg en u liefde. Dankie dat U my op ‘n goeie pad lei! Amen.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS