Bible Society of South Africa

Baie belangrik vir God – 7 September 2022

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

MATTEUS 11

11“Dit verseker Ek julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter is as Johannes die Doper nie, en tog is die geringste in die koninkryk van die hemel groter as hy.

MATTEUS 11:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek wens soms die Bybel wou baie meer oor Johannes die Doper vertel het. Hy fassineer my met sy asketiese leefwyse wat hom dikwels na die woestyn laat padgee het waar hy gepreek en van sprinkane en wilde heuning geleef het. Sommige verklaarders probeer die sprinkane verklaar as peule van ‘n sekere boom, maar ek dink hy het soos baie van ons land se woestynbewoners regte sprinkane geëet. Ek sien hom in my verbeelding as ‘n lang seningrige man met ‘n groot stem wat nie geskroom het om sy onwrikbare geloof uit te leef tot by ‘n punt waar hy die leiers van die volk, die Fariseërs en Sadduseërs ‘n addergeslag genoem het nie. Lees gerus weer Matteus 3.

‘n Forse, onbevreesde mens, maar in die tronk pak die twyfel selfs vir hom beet. Is hierdie Jesus werklik die Messias? Jesus stuur vir hom ‘n gerusstellende boodskap en gebruik dan die geleentheid om deur wat Hy oor Johannes sê, ‘n baie belangrike kenmerk van die koninkryk van die hemel te verduidelik.

In ons teksvers bedoel Jesus nie noodwendig dat Johannes die belangrikste mens van alle tye was nie, maar dat hy in die lang ry van profete wat die koms van die Messias verkondig het, die uitnemendste is. Dink ‘n mens hier aan die profete soos Jesaja, Esegiël en Miga, om maar net ‘n paar te noem, besef jy hoe belangrik Jesus vir Johannes beskou het. Op hom het immers die mantel van die wegbereider geval. God het hom bo almal gekies om die pad vir die koms van die Christus te kom voorberei. Groter eer kan niemand ooit begeer nie “en tog is die geringste in die koninkryk van die hemele groter as hy”. Daardie geringstes is ook ek en jy. Ek groter as Johannes die Doper? Dit is nie wat Jesus bedoel nie. Wat hy hier sê is dat elkeen wat die koninkryk van die hemele binnegaan in God se oë baie besonders is. Wat ‘n vreugde dat ek vir God belangrik is.

Gebed: Baie dankie liewe Vader dat al is ek geen groot profeet nie, ek vir U belangrik is. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS