Besoekers uit die Ooste – 6 Desember 2022
Deur Carina Francke
Bybelteks(te)
MATTEUS 2
Drie sterrekykers uit die Ooste kom in Jerusalem aan en doen navraag oor die koning van die Jode wat gebore is. Hulle het sy ster sien opkom en dit gevolg sodat hulle hulde aan die koning kan bewys. Kan jy jou indink hoe ontsteld koning Herodes moes wees oor hierdie nuus van ‘n “nuwe koning”? Hý is immers die koning van Israel! Met ‘n slu strategie, vind hy by die priesterhoofde en skrifgeleerdes uit dat Betlehem, in Judea, Christus se geboorteplek sal wees en dat Hy ’n herder vir God se volk Israel sal wees.(Matteus 2:6)
Hierdie nuus brandsteek die afgunslont in koning Herodes se koninklike mondering. Onder die dekmantel dat hy ook aan die nuwe koning hulde wil bewys, vis hy in die geheim by die sterrekykers uit wanneer die ster verskyn het. Hy stuur hulle daarna na Betlehem met die versoek dat hulle hom moet laat weet as hulle Hom gekry het sodat hy ook eer aan hom kan bewys.
Maar God wat die motiewe en hart van die mens ken, steek ‘n stokkie voor hierdie blatante leuen. Byna onmiddellik na hulle vertrek, het “die ster wat hulle sien opkom het, hulle gelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was.” (Matteus 2:9-10) In die huis vind hulle die kindjie saam met Maria. Hulle het gekniel en hulde aan Hom bewys en ook geskenke uit hul reissakke gehaal en aan Hom gegee: goud, wierook en mirre. Dit laat my wonder: Hoe dikwels kniel ek en jy as gelowiges in eerbied voor ons hemelse Vader neer? Is ons hande en hart oop om mildelik aan ander te gee? Nodeloos om te sê, die wyse manne het koning Herodes nie ingelig oor waar hy die Kindjie kan vind nie – God Self het die wyse manne in ‘n droom gewaarsku om nie terug te keer na Herodes nie. Hulle het via ‘n ander roete na hul land teruggekeer.
Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die sekerheid van u beskerming in my lewe wanneer ek die pad volg wat U aandui. Dankie vir u betrokkenheid in elke besluit wat ek maak. Mag ek vra vir oop ore van my hart en gees wat my in staat sal stel om vreugdevol “die ander roete” na my bestemming te loop. Amen