Bewaar my van vyandskap met God! – 7 Oktober 2022
Deur Ewald Schmidt
Bybelteks(te)
ROMEINE 8
Die Here het die mens na sy beeld gemaak, om in verhouding met Hom te lewe. (Genesis 1:26) Hy het die mens goed gemaak. Hy het ook die mens vir verhoudings met sy medemens gemaak, waarin die liefde van God sigbaar sou word, tot wedersydse opbou van mekaar. Genesis 1 en 2 vertel hoe dit kon wees vir die mens, binne die ruimte van God se wil.
Genesis 3 vertel die verhaal van die sondeval. Van die mens wat gemaak is met die vermoë om te kies, want God wou kinders hê, nie robotte wat outomaties altyd die regte ding doen nie. Die mens het gekies om in rebellie teen die Here te gaan, om te verklaar dat hy die Here nie nodig het om te besluit oor reg of verkeerd nie. Hy sal sommer self regkom, dankie. Die sondige natuur is steeds met elkeen van ons, dit sit baie diep in ons menswees. Ons is van nature geneig om self koning te wil wees, en volgens ons eie wil te regeer. Byna elke mens dink van nature hulle weet die beste hoe die gang van hulle lewe behoort te verloop, wat hulle wil hê of nie wil doen in die lewe nie. Dit is ons elkeen se natuurlike “default mode” om terug te val op ons eie ek, om te besluit wat die beste vir myself is.
Wanneer die sondige natuur die stuurwiel van my lewe draai, draai ek gewoonlik weg van dit wat God wil hê. Ek hou daarvan om ‘n rebel te wees, en God se gesag uit te daag! Paulus noem hierdie lewenshouding vyandskap met God. God wil verhoudings herstel, ek kom verbreek verhoudings sover ek gaan.
Dis ‘n gevaarlike lewe sonder die Here as koning, en die toekoms van daardie pad is donker. Dit is goed as die Gees ons bewus maak van die gevolge van ons eie keuses, en ons waarsku teen die pad van die dood. Maandag gaan ons kyk na die baie beter alternatief beskikbaar vir ons.
Gebed: Here, ek wil nie as u vyand gereken word nie. Ek wil nie so leef dat my hele lewe getuig van rebellie teen u goedheid en u liefde nie. Bewaar my van myself, en my eie koppigheid. Kom neem beheer oor, en lei my op die pad van die lewe. Amen