Bible Society of South Africa

Die Naam en Woord van God is verhewe – 7 Desember 2022

Deur Carina Francke

Bybelteks(te)

PSALMS 138

Die Here is hoog verhewe

1Van Dawid.

Ek wil U met my hele hart loof.

Laat die gode maar hoor;

dit is tot u eer dat ek sing.

2Ek wil na u heilige tempel toe buig

en u Naam roem om u liefde en trou,

want U het u Naam en u woord bo alles gestel.

3Toe ek na U geroep het, het U my gebed verhoor

en my nuwe krag gegee.

PSALMS 138:1-3AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hierdie Psalm is ‘n loflied waarin Dawid die Here se Naam besing vir sy reddende liefde en trou. Ander gode of heersers kan gerus maar terugstaan – net die Here God Almagtig is goed, en waardig genoeg om besing te word. Net van Hom kan gesê word: “U het u Naam en u Woord bo alles gestel.” (Psalm 138:2) Dit impliseer dat niks en niemand die krag en gesag wat in die Naam van die Here en sy Woord opgesluit lê, omver kan gooi of onttroon nie. Voor die begin was Hy, is Hy nou, en sal Hy vir ewig wees. Tot in ewigheid.

Die Here maak Homself aan die mens bekend deur sy Naam en sy Woord. Sy Naam verteenwoordig dit wat eie aan Hom is – sy wesenskenmerke, maar ook sy heerlikheid en krag. Wat Hy sê, is altyd lewe en waarheid vanuit sy Godheid. En moenie vergeet nie, sy Naam werk verlossing, redding en bevryding vir alle mense mee. En net vir ingeval jy hieroor wonder: Nee, Sy werke is nie toe te skryf aan magiese krag in sy Naam nie! Hy Self het sy Naam en Woord, bo alles gesteI. (M Nel: Wat sê die Bybel, p430)

Niks kan standhou waar die Here se Naam en sy Woord geglo en aangeroep word nie. Siekes word gesond, gered, bevry, en … en. Waarom? Want “in sy Naam” en op gesag van sy Woord moet elke siekte, binding, vrees, ens. die knie buig. Niks en niemand kan die waarheid, naamlik dat die Here se gesagsposisie verhef is bo enige gebeure in die gelowige se lewe, nietig verklaar nie. Hy is … tot in ewigheid!

As jy worstel met siekte, bekommernis, ‘n binding, teneergedruktheid, hartseer of verlorenheid, neem ‘n dapper tree van geloof en volg Dawid se voorbeeld – beroep jou op die hoogste gesag. “Toe ek na U geroep het, het U my gebed verhoor en my nuwe krag gegee.” (Psalm 138:3)

So terloops, kan jy insien waarom die Bybel die mens verbied om sy Naam ydellik te gebruik of ligtelik daarmee om te gaan? Sy Naam is heilig en kragtig en moet as sulks geëer word.

Gebed: My hemelse Vader, baie dankie dat die verhewendheid van u Naam en u Woord, voor niks en niemand die knie buig nie. Die outoriteit daarvan verander alle gebeure van gister, die vrees van nou en die onsekerheid van môre, in ‘n vreugdelag. U Woord en u Naam is voorwaar bo alles gestel. Laat my dit nooit vergeet nie. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS