Doelwitte en voornemens: Vrede – 4 Februarie 2022
Deur Charlea Sieberhagen-Grey
Bybelteks(te)
ROMEINE 12
Gewoonlik, wanneer ek die woord “vrede” hoor, dink ek dadelik aan wêreldvrede en die lighartige grappies wat dikwels gemaak word oor skoonheidskoninginne wat wêreldvrede gaan probeer bewerkstellig. Ek dink gewoonlik aan hoe verwoestend oorloë is en hoe vrede op aarde die ideaal sal wees – as almal maar net oor die weg kon kom. Ja, ek het gewoonlik aan vrede in terme van die wêreld en ’n wyer konteks gedink.
Ek het wel die afgelope paar jaar geleer dat vrede in my persoonlike lewe vir my ’n prioriteit is. Die mensdom gaan vir altyd van mekaar verskil en koppe stamp – dis hartseer maar dis deel van ons menswees.
Maar daar is min dinge wat my hart so kan ontstel as ontstuimige verhoudings met my vriende, familie of geliefdes. Wanneer dit kom by die mense vir wie ek lief is en oor wie ek omgee, wil ek hê daar moet vrede tussen my en hulle wees. Maar ook nie net my geliefdes nie, ook die mense met wie ek elke dag te doen kry by die werk. Ek wil hê dinge moet reg wees tussen my en hulle want wanneer daar vrede tussen ons is, is daar vrede in my gemoed en dan voel ek vry.
Dit ís wel so dat ’n mens nie aldag met jou eie mense gaan saamstem nie. Soms maak mense jou diep seer en voel jy dalk dat jy eerder van die verhouding moet wegstap. Vriendskap en respek moet immers van twee kante af kom.
Tog glo ek dat ons altyd moet probeer om waar ons kan, vrede te maak. Dis wat die Bybel van ons vra en dis wat van ons verwag word as die Heilige Gees ons lewens regeer.
“Maar as die Heilige Gees mense se lewens regeer, dan doen hulle goeie dinge: Hulle is lief vir ander mense, hulle is bly, hulle maak vrede…” (Galasiërs 5:22, ABA)
Ek dink die rede hiervoor is nie noodwendig om uiteindelik wêreldvrede te behaal nie (hoewel dit natuurlik absoluut fantasties sal wees as ons dit kan regkry), maar ek dink dit is omdat God wéét dat onenigheid met die mense rondom jou verterend kan wees. Ek glo God wil hê ons moet in vrede met die mense rondom ons leef sodat daar vrede in ons eie gemoed kan wees. Want as daar vrede in ons gemoed is, is ons vry en gelukkiger as wanneer ons met negatiwiteit in ons harte moet leef.
Gelukkige mense met ’n vreedsame gemoed het boonop dikwels ’n positiewe impak op die wêreld rondom hulle. Hulle kan dit gewoon nie help nie.
Gebed: Here, help my asseblief om ’n vredemaker te wees. Help my om in vrede te leef met die mense rondom my sodat daar ook vrede in my gemoed kan wees. Amen