Doelwitte en voornemens: Vriendelikheid – 8 Februarie 2022
Deur Charlea Sieberhagen-Grey
Bybelteks(te)
FILIPPENSE 4
Ek het ’n kollega wat een van die vriendelikste mense is wat ek nog ooit teëgekom het. Haar warm persoonlikheid en opregte belangstelling in mense skyn soos ’n lig uit haar uit. Wanneer iemand nuut by die span aansluit, doen sy altyd moeite om hulle ’n bietjie beter te leer ken en ’n verhouding met hulle te bou. Dit beteken uiteindelik dat sy een van die mees geliefde mense in ons span is. Sy is ook nie bang om ’n vreemdeling in die hysbak sommer net te groet nie. En wanneer sy hulle weer raakloop, knoop sy maklik ’n vriendelike geselsie aan.
Vriendelikheid is beslis een van die mooiste eienskappe wat ’n mens kan hê. Dis ’n eienskap wat mense na jou toe aantrek want jy laat mense goed en belangrik voel. ’n Mens voel mos gelukkig wanneer iemand anders met jou vriendelik is.
Geen wonder dat dit ook ’n “vrug van die gees” is nie: “Maar as die Heilige Gees mense se lewens regeer, dan doen hulle goeie dinge: Hulle is lief vir ander mense, hulle is bly, hulle maak vrede, hulle is geduldig, vriendelik…” (Galasiërs 5:22, ABA)
Boonop kos vriendelikheid absoluut niks en doen dit gewoonlik vir jou eie gemoed wondere.
So wanneer jy dalk voel jy het niks om vir ander mense te bied nie, niks om te gee nie – onthou dat jy altyd vriendelikheid het. Vir meeste mense is dit oorgenoeg om hul dag te maak.
Gebed: Here, help my om hierdie jaar vriendelik te wees met die mense wat ek elke dag teëkom. Help my om op so manier ’n verskil te maak in iemand se lewe, selfs op dae wat ek nie vriendelik voel nie. Amen