Bible Society of South Africa

Erf die koninkryk – 28 September 2022

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

MATTEUS 25

34“Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit,

MATTEUS 25:34AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wie van ons het nog nie gedroom van ‘n onbekende familielid wat op ‘n dag skielik afsterf en vir ons ‘n reuse erfporsie nalaat nie. Te lekker om so te droom van daardie lank begeerde reis oorsee of eilandvakansie waar jy daglank op jou rug in die blou water kan dryf. In ons teksvers beskryf Jesus ‘n erfporsie wat veel groter en meer werd is as al die skatte van die aarde bymekaar. “Kom beërf die koninkryk” sê Hy.

Gewoonlik erf ‘n mens omdat jy familie is of baie goeie vriende was van die oorledene. Dit gebeur eintlik maar net in stories dat ‘n mens skielik van ‘n totaal onbekende persoon af ‘n erfporsie ontvang. Jy moet deur verwantskap of vriendskap as’t ware “kwalifiseer” om te erf. In hierdie gedeelte vanaf vers 31-40, gee Jesus ook die “kwalifikasie” wat nodig is om die koninkryk van God te kan beërf.

Die groot vereiste is dat jy “familie” van God moet wees, jy moet aan die Koning bekend wees, jy moet een van “dié aan sy regterhand” wees. Om hierdie “kwalifikasie” te bereik, is nie moeilik nie. Die Vader maak jou mos self een van sy geseëndes. Om een van die Vader se geseëndes te wees beteken om ‘n baie spesiale plek in die koninkryk te beklee. Geseënd wees is letterlik om baie gelukkig te wees. Vanaf Matteus 25:35 gee Jesus ‘n oorsig van hoe so ‘n geseënde mens se lewe lyk. Dit is ‘n lewe vol van liefde en omgee vir die medemens op verskeie terreine van die lewe ongeag wie hy of sy is.

In die gewone lewe kan ‘n erfporsie nooit verdien word nie. Dit bly altyd die een wat die testament maak se absolute reg wie in die testament benoem word. Soms word die inhoud van so ‘n testament streng geheim gehou tot op die dag wat dit formeel aan al die belanghebbendes voorgelees word. God se erfporsie kan ook nooit verdien word nie, dit is net genade. Oor die bekendmaking werk God egter anders. Reeds van die grondlegging van die wêreld af maak hy dit vir ons gereed en hy laat ons insig kry in sy Testament, die Ou en die Nuwe. Ons erfporsie is die volle koninkryk, ja die Ewige Lewe self. Lees maar net die Testament, dit staan daar baie duidelik.

Gebed: Hoe kan ons U ooit bedank vir ons wonderlike erfporsie? Ons kan maar net dankie sê deur ons medemens wat honger en dors en sonder klere is, te versorg en bo alles die boodskap van u genade aan elkeen te bring. Help ons asseblief Here om te sien waar die nood baie groot is. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS