Bible Society of South Africa

Gelei na die Vader se huis – 13 Oktober 2022

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

ROMEINE 8

14Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.

ROMEINE 8:14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Volgens hierdie teks van vandag is daar twee soorte mense in die wêreld. Die eerste soort is dié wat hulle nie deur die Gees van God laat lei nie. Hulle is nie kinders van God nie. Dit beteken nie dat hulle slegte mense is nie. Dit is die oorgrote meerderheid van die mensdom wat in hierdie kategorie val. Dit is dikwels baie goeie mense, selfs mense met baie voorbeeldige lewens. Daar is mense wat regtig ‘n groot verskil in hierdie wêreld maak, sonder dat hulle gelowige mense is. Hierdie mense het egter nog nie die stem van die Here gehoor wat hulle roep om Hom te volg as dissipels nie. Of, om watter rede ook al, het hulle al van die Here se liefde gehoor, maar gekies om dit nie vir hulleself toe te eien nie. Hulle is nie kinders van God nie. Al het Hy hulle ook baie lief, die verhouding met Hom is nog nie herstel nie.

Dan is daar dié mense wat die roepstem van die Heilige Gees in ons lewens gehoor het. Hy het ons bewus gemaak van die gebrokenheid van hierdie wêreld na die sondeval in Genesis 3. Hy het ons kom leer van ‘n Hemelse Vader wat vir ons baie lief is, en wat so graag in verhouding met ons wil lewe. Hy het ons kom oortuig van ons Verlosser, Jesus Christus, wat na hierdie wêreld toe gekom het om God se liefde vir ons te kom bewys. Die Heilige Gees het ons na Jesus as Verlosser toe gelei, en Hy het ons by ‘n punt in ons lewens gebring waar ons Jesus as Here leer ken het. Die reis waar die Gees ons lei, begin altyd by die kruis van Jesus. Daarvandaan gaan dit na die leë graf om te verklaar – die offer is aanvaar, die prys is betaal. Waar ons dit in geloof vir ons toe-eien word Johannes 1:12-13 waar: “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore.”

Deur geloof word ons kinders van God. Dan begin die Heilige Gees om ons lewens te verander, dat ons meer en meer soos ons Vader lyk. Hy verander ons om al meer van ons Vader se lig en liefde in ons eie lewe te ervaar, en met die wêreld rondom ons te deel.

Gebed: Heilige Gees, dankie dat U my na die kruis van Jesus toe gelei het, dat ek daar kan sien hoe duur vir my betaal is. Dankie dat U my na die leë graf toe gelei het, om te verstaan dat ek ‘n lewende Here aanbid. Dankie dat U my elke tree van die lewenspad lei, tot ek eendag by die huis van my Vader sal aankom. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS