Geloof soos gelouterde goud – 5 April 2022
Deur Ewald Schmidt
Bybelteks(te)
1 PETRUS 1
Die Amerikaanse sangeres Nightbirde het die wêreld se harte aangeraak met haar lied “It’s Okay” op America’s Got Talent. Sy het haar droom uitgeleef, ten spyte daarvan dat sy tydens die opname net ‘n twee persent kans op oorlewing gehad het weens kanker. Haar lied, en haar getuienis het vertel dat God goed is, ten spyte van al die negatiewe dinge wat ons mag tref. Sy is oorlede op 20 Februarie 2022. Haar getuienis het my diep geraak.
Petrus sê: ons toekoms is veilig in die Here se hande. Die krag van God waarborg dat die kind van God veilig by sy/haar eindbestemming sal uitkom. Dit is die lied in ons hart: God is met my op pad na ‘n beter toekoms. Dit gee my die krag om te volhard, al is vandag moeilik. Dit gee ons vreugde in ons lewens – dis mos wat “verheug” beteken.
In hierdie lewe gaan ons soms deur beproewing. Dit is moeilike omstandighede, dinge wat buite ons beheer is, bo ons vuurmaakplek is, dinge wat ons nie self kan uitsorteer nie. Petrus sê ons geloof is kosbaarder as goud. In hierdie beeld is daar groot waarde. Goud in ons land kom voor in ertsneerslae, dis deel van rots. Dit moet eers losgebreek word, die rots moet fyngemaal word, die goudoplossing deur sianied losgemaak word, voordat dit in ‘n smeltoond gesuiwer word tot 24 karaat suiwer goud. So word die beproewinge in ons lewe ook gebruik om die onsuiwerhede wat ons vashou, los te breek en weg te brand.
Ons hou nie van die idee van loutering nie. Nie een van ons kies vir onsself tye van swaarkry nie, en ons wens ons kon dit altyd systap. Tog wil Petrus sê: hou moed! Wanneer ons deur moeilike tye gaan, is God baie naby aan ons. Hy laat selfs die slegte tye en dinge toe om ons te vorm, om ons geloof te louter, dat dit lof, eer en heerlikheid waardig mag wees wanneer ons Here Jesus ons kom haal.
Ons is kosbaar vir die Here, en geen beproewing gaan ons uit sy hand van liefde ruk nie. Dit bly die uitdaging om so op die Here te vertrou, dat ons deur alle beproewings heen sterker anderkant uitkom.
Gebed: Here, soms is my lewenspad moeilik, amper onhanteerbaar vir my. Maar nie vir U nie! Leer my om op U te vertrou wanneer ek deur die smeltkroes van die lewe gaan. Amen