Geloofsekerheid – 17 Oktober 2022
Deur Ewald Schmidt
Bybelteks(te)
ROMEINE 8
“Wie is ek?” hoor ek in Frank Opperman se stem in sy Dominee Tienie Benade karakter. Dit is sekerlik een van die grootste vraagstukke waarmee elke mens worstel in ons lewens.
Wanneer ons tieners is, hou hierdie vraag ons baie besig. Ons vergelyk onsself met ons ouderdomsgroep, en dit bring baie spanning. Dikwels is ons baie hard op onsself in hierdie fase – ek meet myself teen die beste eienskappe van elkeen van my vriende, en my gevolgtrekking is so maklik: ek is nie goed genoeg nie. Sosiale media het die druk selfs erger gemaak – ons sien die mooi uitgesoekte oomblike in ander se lewens, en wonder waarom ons eie lewensverhaal so ver agter daardie valse standaard is.
‘n Tweede fase waarmee ek as plattelandse predikant dikwels te doen kry, is wanneer mense bejaard word, en die einde begin nader. Op mense se sterfbeddens hoor ek dikwels die vraag: is ek regtig God se kind? Ek het dan so baie keer verkeerde dinge gedoen. Het die Here my regtig vergewe?
Dis waar Romeine 8 in so baie van ons groot lewensvraagstukke ons mooi wil help.
Ons het in Romeine 8:1 gesien die fondament vir ons geloofsekerheid is nie in myself nie, maar in my verhouding met Jesus te vinde. As ek “in Christus” is, staan ek nie meer onder God se oordeel nie. In die verhouding wat ons met God het, het ons die reg ontvang om Hom “Abba”, Vader te mag noem. Ons sekerheid lê nie in hoe mooi getrou ons binne die baan bly nie. Ons is mense, ons maak foute. Elkeen van ons bly maar so afhanklik van die genade van God.
Ons sekerheid lê in God, wat sy hand na my toe uitgesteek het, en my genooi het om die lewenspad saam met Hom te stap. Die Heilige Gees help ons om God se stem te hoor in ons lewens. Hy maak God se Woord vir ons duidelik, Hy oortuig ons van die waarheid, wanneer die Woord dan in Johannes 1:12 duidelik sê: “Elkeen wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.”
Die Heilige Gees kom onderstreep vandag Jesus se woorde in Johannes 6:47: “Wie in My glo, het die ewige lewe.” Die sekerheid lê in Jesus, in wie Hy is, en wat Hy vir my gedoen het. Die Heilige Gees kom oortuig: dis wie ek is! Ek is God se kind, deur geloof in Jesus Christus. Dit alles is sy groot genade. Hy is die vaste sekerheid in my lewe. En dit is genoeg!
Gebed: Here Jesus, dankie dat ek deur geloof in U, kind van God mag wees. Help my om dit altyd te onthou wanneer ek wonder wie ek is. Amen.