Genade: Die Here hoor – 12 Desember 2022
Deur Carina Francke
Bybelteks(te)
PSALMS 106
Die volk se smeekgebede in hierdie vers, verklap die nood waarin hulle verkeer. Verhewe bo dit, is egter God se liefde, betrokkenheid en ingrype by die mens se wel en weë. ‘n Nimmereindigende refrein wat luidkeels beier dat Hy goed is en dat sy liefde met genade in dade omgesit word.
Psalm 106:1-2 besing God se liefde en goedheid as eindeloos en konfronteer ons met hierdie vraag: “Wie kan die magtige dade van die Here onder woorde bring?” (Psalm 106:2) Ons antwoord: God alleen. Nogtans, ondanks sy diep kennis van die mens se hardkoppige dwaalhart weg van Hom af, gee Hy aan ons die vryheid en ruimte om self te kies: vasloop paadjies of die reguit pad. Kies ons verkeerd, dra ons die gevolge. Nogtans loop sy genade en vergifnis ons steeds agterna en wag geduldig op ons hulpgeroep en skuldbelydenis: “Ons het gesondig, net soos ons voorvaders, ons het verkeerd gedoen, ons is skuldig.” (Psalm 106:6)
Hierdie erkenning bring God se reddingshand in beweging: “Hy het hulle gered ter wille van die eer van sy Naam en om sy mag bekend te maak.” (Psalm 106:8) Kan jy die Vader se oneindige genade en betrokkenheid by menselewens raaklees? Dit is ter wille van die mens dat Hy aan sy verbond dink, en dan in sy onmeetbare liefde, genade betoon deur vergifnis aan ons te skenk.
Hy stel Homself ook bekend aan ongelowiges. In dié geval die farao. Hy laat toe dat die farao in opstand teen Hom kom. Die rede? God antwoord self: “… dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word.” (Romeine 9:17)
In ons gejaagde en dikwels eiesinnige lewe, kan ons gerus meer dikwels gaan stilstaan, na die Here roep en ‘n verwagting koester om sy krag in ons te sien werk.
God se belofte van vergifnis en liefde aan die mens wat in Hom glo, is vandag steeds sy krag wat gedemonstreer word. Jy sien, Jesus, die Seun van God, was die offerprys wat jou, my en elke mens losgekoop het van die ewige dood sonder God.
Gebed: Ewige Allerhoogste, ek lig my hande op na U wat gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde is. Na U wat nie een ding sê en ’n ander doen nie, maar aan u Naam en Woord getrou is. Dankie dat nietige mense U mag nader met vrymoedige voorbarigheid, maar met die seker wete dat U na die geringste mens luister; sy geroep hoor en te hulp snel. Ek loof u grootheid! Amen