Bible Society of South Africa

Genade: Genade om te kan vergewe kom van God – 4 November 2022

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

GENESIS 45

4Maar hy het vir hulle gesê: “Kom na my toe!” en toe hulle nader kom, sê hy: “Ek is julle broer Josef. Julle het my verkoop, en ek is Egipte toe gebring.

GENESIS 45:4AFR83Maak oop in die Bybelleser

Shakespeare het nie verniet na jaloesie as die groenoog monster verwys nie. Dit het van die begin van tyd onenigheid tussen mense veroorsaak. Die eerste twee sibbe waarvan die Bybel ons vertel, Kain en Abel, was slagoffers van jaloesie wat tot die eerste broedermoord aanleiding gegee het. God was tevrede met Abel se offer van die beste wat hy gehad het en wat hy in geloof gebring het, maar Hy het Kain s’n verwerp. (Genesis 4:8) So, gevul met jaloesie het Kain Abel doodgemaak.

Jaloesie was ook ‘n probleem in josef se verhouding met sy 10 broers: “Toe sy broers sien dat hulle pa vir Josef liewer het as vir enige van hulle, het hulle ‘n afkeer van Josef gekry en het hulle niks goeds oor hom gesê nie.” (Genesis 37:4)

Jakob was openlik liewer vir Josef, wat in sy ouderdom gebore is, as vir sy ander seuns, en het vir hom “lang klere met moue” gemaak. (Genesis 37:3) Dit het Josef se kosbaarste besitting geword – iets waarmee hy gereeld gespog het – iets wat sy 10 broers woedend gemaak het omdat hy duidelik hulle pa se gunsteling was. Uiteindelik het hulle genoeg gehad van hom en sy kleed en van sy nimmereindigende vertellings van sy drome waarin hulle en hul ouers hulde aan hom sou bewys.

Josef se houding het die probleem vererger, en dit het veroorsaak dat sy broers hom genoeg gehaat het om hom te wil doodmaak. Toe die geleentheid hom voordoen, het hulle onder hulleself besluit om hom eerder in slawerny na Egipte te verkoop.

Dit het meegbring dat Josef op ‘n wrede manier uit sy land en van sy familie verban in die tronk beland en swaargekry het, voordat hy deur God se genade vrygelaat en ‘n belangrike pos in Egipte beklee het – iets wat hy later erken het as God se plan van die begin af. Hy erken dat God deur al die lyding by hom was en dit stel hom in staat om aan sy broers te sê: “Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red.” (Genesis 45:5)

Die genade wat Josef na al die pyn en lyding wat hy verduur het aan sy broers kon bewys, is merkwaardig. Sy begrip vir sy omstandighede het egter toegeneem want in hierdie tyd van lyding het hy al die tyd wat nodig was gehad om sin daarvan maak. Hy het vrede gemaak met dit wat sy broers aan hom gedoen het en hy het hulle volkome vergewe. Genade soos hierdie is slegs moontlik deur God te eer.

Die broers het ook oorgenoeg tyd gehad om tot hulle sinne te kom en jammer te wees oor hulle gevoellose gedrag. Dit het die profesie van Josef se drome vervul en versoening het plaasgevind. Dit dit het duidelik geword dat God weer genade en guns aan Jakob en sy gesin bewys. God het “[hulle] vergoed vir die jare toe die treksprinkane, die voetgangers, die kaalvreters en die ruspes alles opgevreet het … ” (Joël 2:25, 2020-vertaling)

Hoe hanteer ons die jaloesie wat ons ondervind?

Gebed: Genadige Vader, ek moet bely dat, alhoewel ek soms deur die aksies van ander beïnvloed word, my persepsie van ‘n situasie misleidend kan wees omdat ek u genade nie in berekening bring nie. Wat ook al my ondervinding, help my om altyd die groter prentjie en u onveranderlike genade raak te sien. Amen

Bible Society of South Africav.4.25.3
VOLG ONS