Genade: God se genade onderhou ons – 17 November 2022
Deur Louise Gevers
Bybelteks(te)
DEUTERONOMIUM 2
Wanneer ons vandag oor hierdie wonderlike woorde nadink, besef ‘n mens dat dit getuig van God se liefde en genade wat Hy aan ons bewys, en dat dit vir alle mense regoor die wêreld kan geld, en nie net vir die Israeliete van daardie tyd nie.
Matthew Henry definieer genade as die “vry, onverdiende goedheid en guns wat God aan die mensdom bewys.” [vrye vertaling] en ons teks is ‘n primêre voorbeeld hiervan. Moses gee hier ‘n opsomming van hoe God in veertig jaar in die woestyn die Israeliete voorspoedig gemaak en hulle niks kortgekom het nie. God se genade het hulle elke tree van die pad onderhou. “Die Israeliete het veertig jaar lank manna geëet; … tot hulle by die grens van Kanaän gekom het” (Eksodus 16:35) en hulle hulleself kon onderhou.
God het ‘n plan gehad vir hierdie groepie mense wat Hy vir Homself uitgesoek het. Hy het hulle liefgehad, maar hulle het dit nie besef nie en hulle het Hom op daardie stadium nie liefgehad nie. Hulle het steeds op hulle eie instink vertrou en terugverlang na die oorvloed van Egipte. Hulle het skoon vergeet dat dit die land van slawerny was, die land waar hulle slawe was en nie in beheer van hulle eie lewens nie. Sou hulle terugkeer, was dit hulle voorland. Die Here het hulle teen geen geringe prys bevry nie.
God het beplan om hulle in sy weë te onderrig en hulle te beproef “sodat die egtheid van [hulle] geloof getoets kan word”, (1 Petrus 1:7) en hulle toe te rus vir die lewe – nie as slawe nie, maar as sy uitverkore volk wat in die Beloofde Land aan Hom eer sal bring. Dit was lewensbelangrik vir hulle om na Hom te luister en sy opdragte te gehoorsaam as hulle nie op die Sabbat wou hongerly of op enige ander dag tevrede moes wees met stinkende manna met miet in omdat hulle meer ingesamel het as wat hulle benodig het nie.
Maar om dissipline te handhaaf was nie maklik nie. Die Israeliete het steeds gekla, opdragte geïgnoreer en die gevolge gedra van hulle onwilligheid om hulle trotse moedswilligheid opsy te sit. Is dit ook nie waaroor ons sonde gaan nie?
En tog, in die tye van beproewing en toetsing het die Here hulle nie verlaat nie, maar het Hy daagliks water, manne en kwartels aan hulle voorsien. En selfs wanneer hulle ondankbaar was en teenoor Hom gekla het, het sy genade hulle onderhou.
Hy het getrou gebly aan sy eerste belofte aan Moses om “elke keer vir [hulle] kos uit die hemel [te] laat reën (Eksodus 16:4) en aan sy opdrag “om [hulle] te leer dat ‘n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom.” (Deuteronomium 8:3) Hierdie is die woorde wat Jesus, die Brood van die Lewe, toe Hy in die woestyn was, op ‘n kragtige manier teen die duiwel gebruik het.
Het God nie altyd vir ons voorsien en ons deurgedra in tye toe ons deur moeilike dae in ons “eie woestyn” geworstel het nie? Vir diegene wat Jesus volg, is dit wonderlik om gewillig sy opdragte te gehoorsaam en elke dag nader aan Hom te groei.
Gebed: “Dít is my lewe, Here, om u woord te gehoorsaam. Ek smeek U met my hele hart: Wees my genadig, soos U beloof het. Gee my goeie insig en kennis, want ek stel my vertroue in u gebooie.” (Psalm 119:57-58,66) Amen