Genade: Lewende genade – 8 November 2022
Deur Louise Gevers
Bybelteks(te)
FILIPPENSE 2
Ongeag wie ons is, elkeen het ‘n gemaksone wat ons beskerm teen dinge wat ons kan ontstel en waar ons gemaklik, veilig en in beheer voel. Ons verkies om in hierdie gemaksone te wees, ontspanne en ongestoord. Dit is egter nie hoe God ons gemaak het nie. Sy doel vir ons is ‘n “lewe in oorvloed” (Johannes 10:10) wat begin by gemeenskap met Hom en omgee vir ander.
Soms is ons egter stadig van begrip en is dit slegs wanneer iets vreeslik gebeur en ons sake in ‘n ander lig sien, dat ‘n edeler gees na vore tree, ons van onsself en ons gevoelens vergeet, en op daardie hoër roepstem reageer.
Dit was aangrypend om die Britse koninklike familie se houding regdeur die openbare gedeelte van koningin Elizabeth II se begrafnisdiens waar te neem. Nie net was dit ‘n diepgaande uitdrukking van haar persoonlike geloof wat ‘n diep geestelike belewenis gebied het aan almal wat deelgeneem het aan die geleentheid, of hulle nou teenwoordig of ver was, maar dit was ook ‘n geleentheid waar ‘n familie in rou tydens die afsterwe van hulle moeder en ouma goedgunstelik toegelaat het dat die buitewêreld deel word van hulle hartseer en saam met hulle rou.
Hulle het selfs verder gegaan in die gees van Jesus se woorde (Matteus 5:41) en het diegene wat nie deel van hulle familie is nie, ten koste van hulle emosies en persoonlike ruimte vriendelik verwelkom. Hulle het in hierdie aangrypende gebeure gekies om “ander hoër [te] ag as [hulle]self”, en sodoende almal ingesluit.
Om die belange van ander bo ons eie te stel, beteken dat ons die genade uitleef wat ons in Jesus sien, eerder as om ons eie onsensitiewe en soms moedswillige pad te volg. Paulus vermaan die Fillipense oor hulle verhoudings en sê: “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was … het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. (Filippense 2:5-7)
Wat moes dit nie vir God beteken het om deur Jesus Christus die grootsheid van die hemel en alles wat dit vir Hom inhou, te verlaat en na die aarde te kom nie? ‘n Grootse sending van liefde: die verlossing van ‘n verlore wêreld.
“Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem … het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.” (Filippense 2:6-8)
Genade was die belangrikste deel van Jesus se sending. En Hy het dit sy alles gegee.
Hy het lank reeds geweet dat mense nie aan die eise van die Wet kon voldoen nie. Slegs Hy alleen kon die prys vir hulle vryheid betaal en deur hierdie edelste vorm van liefde kon Hy deur te sterf en weer op te staan, diegene wat verlore is verlos en hoop aan die ganse mensdom bring.
Kan ons in ons gemaksone bly?
Gebed: Here Jesus dankie dat U nie in u gemaksone gebly het nie, maar dat U die offer vir ons sonde geword het, en deur u deernis vir en aanvaarding van ons, vir ons die verpersoonliking van genade is. Dankie vir u vergifnis en verlossing. Skenk aan my genade om U lief te hê en ander met nederigheid te dien. Amen