Genade: ‘n Psalm van oorvloedige genade – 18 November 2022
Deur Louise Gevers
Bybelteks(te)
PSALMS 23
Die Here is my herder
aie verskillende nuanses van genade het sover in ons daaglikse oordenkings na vore gekom, en in vandag se stuk word daar iets van die ryke volheid van genade geïllustreer. Die toepassing daarvan bly egter steeds gevarieerd wanneer ons daarna kyk deur die oë van “‘n man na [God se] hart” (1 Samuel 13:14) Dawid was ‘n skaapwagter voordat hy ‘n koning geword het. Hy het verskillende ondervindings in sy persoonlike verhouding met die Herder beleef. Laasgenoemde het egter onveranderlik gebly.
Die bekende en geliefde Psalm 23 is ‘n kort psalm wat troos en vrede bring wanneer dit vertel van God se tere liefde en intieme sorg vir elke individu in sy kudde. Hierdie psalm word by verskillende geleenthede gelees, of gesing, aangesien dit van toepassing is op verskillende ondervindings. Dit beskik oor die krag om ons te vertroos wanneer ons ontdek dat die Herder weet wat ons benodig en dat Hy daarin kan voorsien, of ons dit nou verdien of nie.
Wanneer die Here my herder is, soos Hy Dawid se herder was, weet ek dat Hy my lei. Ek het alles wat ek nodig het want, as my Skepper en Vriend versorg Hy my in my persoonlike omstandighede en Hy voorsien vir elke tree van my lewenspad. Hy ken my besige, stresvolle lewe en daarom lei Hy my na “waters waar daar vrede is” (Psalm 23:2), waar ek in sy teenwoordigheid na hart, siel en gees vernuwe kan word en waar Hy “my nuwe krag gee”. (Psalm 23:3)
Omdat Hy die goeie herder is, dra Hy elkeen van ons se belange op die hart en voorsien vir ons op die manier wat Hy weet die beste is. Aangesien ons weet dat Hy vir ons omgee kan ons ophou om ons te bekommer want Hy wil nie dat ons verlore gaan nie en sal ons altyd beskerm. “Hy lei [ons] op die regte paaie”(Psalm 23:3b) en na “die poort wat na die lewe lei, [wat] nou en die pad daarheen smal [is], en dié wat dit kry, is min.” (Matteus 7:14)
Hy rus ons toe om hierdie vrede te handhaaf.
Op daardie dae wat die lewe moeilik is en ons voel dat “ons deur donker dieptes [gaan]” (Psalm 23:4) en ‘n krisis in die gesig staar – ‘n lewensgevaarlike siekte, werkloosheid, oneindige pyn, of verwerping deur geliefdes, vind ons troos deur te vertrou dat die Here se sterk teenwoordigheid en vrede ons angs sal vervang want ons weet dat hierdie Herder “is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie”. (Hebreërs 4:15)
Die Herder verlaat ons nooit nie. Hy is altyd teenwoordig wanneer ons teen ons vyande moet stry.
Dawid, as skaapwagter en koning, is so bewus van God se seëninge en hy voel dat God “laat [hom] by ‘n feesmaal aansit” (Psalm 23:5) en die Here maak al sy vyande – bere, leeus, skoonpa – kragteloos in hulle pogings om sy doel vir Dawid se lewe te stuit. Hy beleef ‘n feesmaal deur God se ryke genade.
Is die Here jou herder?
Gebed: Genadige Herder, ek weet dat “U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.” (Psalm 23:6) Amen