Bible Society of South Africa

Genade: Verlore en gevind – 21 November 2022

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

LUKAS 15

6As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was, weer gekry.’ 7Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie.”

LUKAS 15:6-7AFR83Maak oop in die Bybelleser

Solank as wat ons op die aarde woon, sal daar altyd iets verlore wees. Dit is een van die simptome van ons gebrokenheid in ‘n verlore wêreld wat ons elke dag beïnvloed en wat kan strek van iets relatief gering tot iets uiters belangrik. Waar ons ook al is, ons is altyd besig om te soek – na kennis, status, eiewaarde, ‘n huweliksmaat, sleutels, ens. Jesus is bewus hiervan en Hy het hierdie basiese handeling as illustrasie in ‘n aantal gelykenisse gebruik.

In die gelykenis van die verlore skaap, skilder Hy ‘n prentjie van ‘n trop skape wat vreedsaam in die veld wei, maar een is weg. Die skaap het weggedwaal en is nou verlore. Die eienaar laat die nege en negentig wat besig is om te wei in die veld agter en gaan soek na die een wat weg is, “en as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy skouers.” (Matteus 15:5)

Sou dit nie meer sin gemaak het vir die herder om by die baie skape, wat kwesbaar is vir roofdiere, te bly eerder as om na die een skaap te gaan soek nie?

Nie as daardie verlore skaap John Newton, die kaptein van ‘n slaweskip, was nie, of Saulus van Tarsus wat Christene vervolg het nie – en veral nie as dit een van ons was nie, waarmee ons ook al besig is. Want daardie een, verlore skaap is net so kosbaar as die nege en negentig wat vreedsaam wei. Wanneer Hy die verlore een kry, tel Hy hom op sy skouers en dra hom huis toe – soos ‘n ouer wat ‘n geliefde kind wat weg was, vind.

John Newton, ‘n uitdagende, onheilige jongman, het baie gevare oorleef. Toe Jesus hom gevind het, was hy vasgevang in die wêreld van slawehandel, die gevoellose gevangeneming van mans, vroue en kinders in Afrika wat hy onder verskriklike omstandighede per skip vervoer het om in Europa te gaan verkoop.

Tydens ‘n verwoestende storm ter see wat van die bemanning oorboord laat val het, het John tot sy sinne gekom en by die Here om genade gepleit. God het die storm laat bedaar, maar die beskadigde skip het Ierland eers vier weke later bereik.

John, die “wegloopkind”, is deur hierdie ondervinding van God se genade, genade wat hy geweet het hy nie verdien nie, gered en sy lewe is verander. Soos die verlore seun in die bybelse gelykenis was hy ook ‘n “verlore seun – ‘n wegloopkind – [en nou] weer in die vaderhuis”.

Vanaf hierdie oomblik het John Newton sy lewe in diens van die Here gewy.

John Newton het die lied “Amazing Grace” (“Genade onbeskryflik groot” ) uit sy diep persoonlike ondervinding geskryf, maar dit is vandag steeds geliefd onder almal wat die waarheid wat daarin vervat is, besef. Kom ons merk self die lysie af.

Wat is jou ondervinding van God se “genade onbeskryflik groot”?

Gebed: Genadige Herder, U het al u skape lief. Dankie dat ons “inderdaad uit genade gered [is], deur geloof … nie uit [onsself] nie”. (Efesiërs 2:8) Ons “almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar [ons] word, sonder dat [ons] dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.” (Romeine 3:23-24) Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS