Bible Society of South Africa

God en die Woord is sedert die begin – 8 Desember 2022

Deur Carina Francke

Bybelteks(te)

JOHANNES 1

Die Woord het mens geword

1In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. 2Hy was reeds in die begin by God. 3Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. 4In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. 5Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

JOHANNES 1:1-5AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hierdie Skrifgedeelte vertel waar die Woord, naamlik Jesus, die Messias, die Seun van God vandaan kom. Heel aan die begin was God, asook die Woord (Jesus) reeds daar. Ook heel aan die begin, toe met die skepping begin is, was die Woord (Jesus) ook reeds daar om saam met God te skep. (Johannes 1:3) Die skepping kom déúr hulle tot stand. Maar God en die Woord is nie deel van die skepping nie. Dit impliseer: God en die Woord is verhewe bo die skepping en dat die Een wat skep, belangriker is as dit wat geskep word. (Bybellenium. p 1 573)

Die vers vir vandag stel ons bekend aan die Woord, naamlik Jesus, die Seun van God, die Messias. Hy was by God en is self ook God. Klink vreemd né? Byna onbegrypbaar. En so sal dit bly vir die ongelowige, want net diegene wat waarlik glo in die Godheid, kan hierdie grootsheid snap. Jy sien, dit is die Heilige Gees wat in jou as gelowige kind van God woon, wat openbarend en verligtend werk in jou gees. Sy teenwoordigheid in jou, werk mee dat jy die waarheid kan raaklees, dit kan verstaan, asook kan glo, sodat jy dan met jou mond kan bely dat Jesus (die Woord) is. (Van der Watt, et al. Die Bybel A-Z. p 669)

Johannes 1:14 gooi lig op hierdie waarheid as hy sê: “En die Woord (Jesus) het mens (vlees) geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, ‘n heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.”

Gebed: Hemelse Vader, in ‘n deurmekaar, leuen beverfde samelewing, dank ons U vir u onaangetaste, suiwer Woord-waarheid wat ons voete op God se pad laat loop. Maak die gees van elke Christus volgeling sensitief om die volle waarheid in die Woord raak te lees en dit in praktyk te leef. Wakker ‘n sensitiwiteit by u kinders aan om die stem van die Heilige Gees te hoor en te gehoorsaam as Hy praat. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS