Bible Society of South Africa

God se koninkryk word gevestig – 5 September 2022

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

MATTEUS 6

9“So moet julle bid:

“Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word;

10laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.

MATTEUS 6:9-10AFR83Maak oop in die Bybelleser

ie “Onse Vader” gebed wat Jesus vir sy dissipels voorgehou het as die “model” gebed, bevat al die elemente wat ‘n gebed ooit hoef te bevat. Dit begin deur die klem te plaas op die grootheid van God. Dan word sy vaderskap en dus ook vaderliefde toegelig. Dit bring na vore hoe afhanklik ons van God is vir ons daaglikse versorging. Ons verhouding met ander mense kom ter sprake en daar is ook skuldbelydenis van ons sonde, met terselfdertyd die blye wete dat vergifnis moontlik is.

Vir ons gedagtes oor die koninkryk van God is al hierdie bedes van groot belang. Alhoewel die hele gebed as ‘n eenheid gesien moet word, vorm die eerste drie bedes ‘n besondere eenheid. Die heiliging van God se Naam en die bede dat sy wil sal geskied, het albei betrekking op die gebed om die koms van die koninkryk. Met die koms van die koninkryk, dit is die vestiging van God se heerskappy in die wêreld, is daar ruimte vir die heiliging van sy Naam en kan Hy sy wil oral in die hemel en op aarde laat geskied.

Maar ook die ander bedes het direk betrekking en vind hulle plek binne die raamwerk van God se koninkryk. Ons daaglikse brood, dit wil sê ons versorging op stoflike gebied, vind plaas binne die liefdevolle ruimte van sy koninkryk. Ons kan eintlik sê ons word soos koningskinders versorg. Dit geld nie net op stoflike gebied nie, maar ook op geestelike, want ons mag en kan ook bid dat ons skulde vergewe sal word en ons bewaar sal word van die Bose. Hierby maak ons weer van ons kant af ‘n belofte om diegene wat ons benadeel het, te vergewe. Alles koninkryksake.

Die beste manuskripte bevat nie die laaste lofprysing en koninkrykaanwysing nie en dit kom ook nie in Lukas se weergawe voor nie. Tog sê die voetnoot by die 2020-vertaling die volgende: “Dit het egter so deel van die liturgie van die vroeë kerk geword dat dit mettertyd in baie manuskripte opgeneem is en sodoende deel van die gebed geword het”. Ek glo ook ons kan maar afsluit met vers 13b: “Want aan u behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.”

Gebed: Ons bid almal saam: Ons Vader …

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS