Hoop en dankbaarheid: Die waarde van vriende – 23 Februarie 2022
Deur Charlea Sieberhagen-Grey
Bybelteks(te)
PREDIKER 4
Twee vaar beter as een
Ek het danksy my werk wonderlike vriendinne deur die jare gemaak. Ongelukkig het ek later Kaap toe getrek en het van dié vriendinne in Johannesburg agtergebly. Mens behou helaas ook nie kontak met almal nie, maar tegnologie het gemaak dat ek nog weekliks, soms daagliks met sommige vriendinne kan gesels, selfs al sien ek hulle eintlik hopeloos te min. Soms stuur ons vir mekaar sulke la-a-a-ang stemboodskappe oor verhoudings of familienuus, of ons bespreek sommer die oppe en affe van die lewensfase waarin ons is. (Ja, ons moet dit dalk eerder podsendings as stemboodskappe noem, ek weet!)
Die wonderlike is, dit gee my so dikwels moed vir die verskillende uitdagings wat oor my pad kom. Dit help my om te onthou daar is iemand wat omgee of iemand wat my met raad kan bystaan as ek nie weet wat om in ’n moeilike situasie te doen nie. Dit herinner my dat ek nie alleen deur die lewe gaan nie.
Bogenoemde gedeelte in Prediker word dikwels tydens huweliksbevestigings aangehaal. Dis ’n baie mooi gedeelte en dit beklemtoon die waarde van ’n lewensmaat, iemand wat jou kan ophelp en bystaan, so mooi.
Die gedeelte hoef wel nie net by troues aangehoor te word nie. Dit verduidelik eintlik hoe belangrik vriendskap in die lewe is. Dit is voorwaar ’n geskenk van God, een wat Hy wil hê ons moet aangryp.
Ons as mense is gewoon nie gemaak om gedurig op ons eie te funksioneer nie. Ons het mense rondom ons nodig om ons met tye te help om die las van die lewe te dra. Ons het iemand nodig wat ’n gewillige oor sal wees, of ’n skouer as dinge swaar gaan. Boonop het vriende soms beter begrip vir dinge wat jy dalk voel jou eie familie nooit heeltemal sal verstaan nie. Hulle bring soms nuwe perspektief en eerlikheid, en die vreugde wat jy met goeie, opregte vriende kan deel, is mos sommer dubbele vreugde.
Ek glo ons kan ons vriende hierdie jaar opnuut waardeer en moeite doen om ons vriendskappe te laat groei. Vriende verryk immers ons lewens – hulle kleur die dae in met grappies, ondersteuning en ’n vars uitkyk op die uitdagings. Wat ’n wonderlike geskenk is dit nie?
Gebed: Vader, baie dankie vir die wonderlike vriende wat U oor my pad stuur. Help my om my vriende te koester en te waardeer en moeite te doen om hierdie vriendskappe te laat groei sodat ek ook hierdie lewensvreugde kan aanhou ervaar. Amen