Hoor en doen – 14 Junie 2022
Deur Ben Fourie
Bybelteks(te)
ESEGIËL 33
Die Bybel is as versameling boeke ongeëwenaard. Prosa word afgewissel met poësie, wysheid met geskiedenis, reekse rituele voorskrifte met pragtige verhale. Selfs ’n ongelowige kan dit ’n besondere boek vind om te lees. Die boek Esegiël is vanweë die beeldspraak en poësie daarin een van die mooiste boeke in die Bybel, maar natuurlik by uitstek ook omdat die profeet die woord van die Here op ’n besondere manier aan die volk kon oordra. Talle male lees ons in die boek: “Die woord van die HERE het tot my gekom.” Hierdie hoor van die woord het ook dikwels met visioene gepaard gegaan.
Esegiël is saam met die eerste groep ballinge deur Nebukadnesar in 597 v.C. uit Jerusalem weggevoer. Hy was ’n priester en dus ’n persoon van aansien. Hy word hier in die plek van ballingskap deur God geroep om as profeet op te tree. Hy het hier vir meer as 20 jaar die woord van die Here ontvang en getrou aan die volk oorgedra.
Uit die verse wat ons teksvers voorafgaan, kan ’n mens aflei dat Esegiël ’n besonder goeie spreker was, tot die mate dat soos vers 31 sê, die mense in groot getalle na hom kom luister het. Die hartseer is dat hulle kom luister het, maar nie gehoor gegee het aan die woorde nie. Ons teksvers stel dit baie mooi. Die mense het Esegiël se preke of profesieë sodanig geniet dat dit vergelyk word met mooiklinkende musiek, maar helaas was dit vir hulle niks meer as dit nie. Hulle het dit waarskynlik nog ’n rukkie onder mekaar bespreek en dan was dit weer vergete. “Hulle hoor jou woorde, maar om dit te doen, bestaan nie by hulle nie.”
Hoe hoor ons die woord van God en boweal wat doen ons met wat ons hoor, want as dit wat ons in die kerk of tydens stiltetyd hoor nie in dade omgesit word nie, is dit inderdaad niks meer as ’n mooi melodie wat gou weer vergeet word nie.
Gebed: Ons bid dat U vandag weer vir ons onder die indruk sal bring van hoe en waar U ons wil gebruik om u woord sigbaar te maak in wat ons vir ander doen. Amen