Bible Society of South Africa

In Jesus is ek nou vry! – 3 Oktober 2022

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

ROMEINE 8

Lewe deur die Gees

1Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.

Die Here het ons gemaak om vry te wees, en sonder skuldgevoelens te lewe. Maar bepalings en voorwaardes geld. Ons gaan hierdie maand saam deur een van die groot hoofstukke van die Bybel reis, en kyk na die nuwe lewe wat ons deur die Heilige Gees ontvang het.

Hierdie kragtige hoofstuk begin met die belofte van vryheid, en ‘n nuwe lewe saam met die Here. Die belofte geld vir dié wat “in Christus is”. Paulus is lief vir hierdie term, hy gebruik dit 164 keer in die Nuwe Testament. Iemand wat “in Christus is”, is ‘n persoon wat Jesus Christus as die Here van sy/haar lewe leer ken het. Ons het beheer van ons lewe oorgegee aan die Koning. Ons het ontdek dat ons nie onsself kon red nie. Ons het sy klop aan die deur van ons hart gehoor, soos Openbaring 3:20 vertel. Ons het oopgemaak, Hom ingenooi, en dit het alles in ons lewe kom verander.

Wanneer ons Jesus as Here ken, dan is hierdie belofte waar. Ons staan dan nie meer onder die oordeel van God nie. Jesus het klaar die prys betaal vir alles wat ons van God geskei het. Hy het vir ons die nuwe lewe kom verdien, en ons het dit met dankbaarheid ontvang. Ons is nou reeds vry! Ons hoef nie vir die oordeelsdag te wag om die uitkoms van ons ewige toekoms te hoor nie. Hy het ons vrygemaak om voluit vir die Here te lewe, sonder enige vrees. Die reis deur hierdie lewe is nie maklik nie, ons gaan dit nog deeglik in die res van die hoofstuk sien. Maar die belofte van Romeine 8 is dat die Here saam met ons op pad is.

As daar dan geen veroordeling meer is nie, waarom dra ons nog soms so swaar aan die bagasie van ons verlede? Toe ons die roepstem van Jesus gehoor het, het Hy ons genooi om na Hom toe te kom, net soos ons is, met al ons gebrokenheid. Hy het juis na hierdie wêreld toe gekom omdat ons Hom nodig het. Hy het die prys kom betaal vir al die sonde en tekortkominge wat ons so pla. Hy wil ons vry maak. Gee dit wat jou nog terughou, vir Hom in gebed. Bely die dinge wat so pla. Hy wil vergewe, en nuwe lewe gee. Hy wil jou vry maak, om voluit vir Hom te lewe, sonder iets wat jou verstrik en terughou! Aanvaar sy vrede vandag!

Gebed: Here Jesus, dankie dat U na hierdie wêreld toe gekom het, om my te kom vry maak. Ek was verstrik in my sonde, en kon myself nie red nie. Maar U het die volle prys vir my betaal. Dankie dat ek nou in U mag lewe, deel van u koninkryk. Dankie vir die vryspraak vandag! Amen

Bible Society of South Africav.4.25.3
VOLG ONS