Jesus die koning reeds hier – 21 September 2022
Deur Ben Fourie
Bybelteks(te)
LUKAS 17
Die koms van die koninkryk
Die Fariseërs was die godsdienstige elite. Hulle het die Skrifte bestudeer en uitsprake gemaak oor baie dinge wat die godsdiens van die Jode van hulle tyd geraak het. Hulle het ook streng toesig gehou dat die godsdienstige wette nougeset nagekom word. Een van die belangrikste teologiese vrae van hulle tyd was juis die een oor wanneer die koninkryk van God sou kom. Met die vraag het die Fariseërs die groot messiaanse verwagting wat daar geheers het, verwoord. Hierdie verwagting van die Messias was baie nou verbonde aan die hoop dat die Romeinse juk afgegooi sou word en Israel weer as soewereine koninkryk sou opstaan.
Ons kan nie met sekerheid sê nie, maar dit lyk asof daar onder die Fariseërs dalk die gedagte ontstaan het dat Jesus tog ‘n profeet is en hulle vra dan die vraag om te kyk hoe Hy daaroor dink. Hulle wou weet wat Hy as tekens sou sien vir die koms van die koninkryk. Nooit het hulle egter gedink dat Hy dalk self die Messias is waarna hulle so verlang het nie, want Hy het nie gepas in hulle patroon van hoe die Messias sou lyk en optree nie.
Jesus se antwoord is tweërlei van aard. In die eerste plek is die koms van God se koninkryk nie gekoppel aan waarneembare of sigbare tekens nie. ‘n Mens sou dit ook kon vertaal as dat dit nie so maklik is om te bereken wanneer die koninkryk sal kom nie. In die tweede plek sê Jesus vir hulle dat hulle so kyk en soek na tekens dat hulle die groot waarheid miskyk dat die koninkryk reeds in Hom tot by hulle gekom het: “kyk die koninkryk van God is in julle midde”. Letterlik geneem kan dit ook beteken dat God se koninkryk deur Jesus in mense se harte is.
Die mens is geneig om die koninkryk van God te sien as iets daar buite, iets wat deur allerlei tekens en groot gebeure bevestig moet word, maar dit het reeds deur Jesus en die werking van die Heilige Gees deel geword van elke gelowige se daaglikse lewe.
Gebed: Ons dank U dat u koninkryk nie soos die van die wêreld is wat met groot gedoe gepaard gaan nie, maar iets wat in ons harte lewe. Amen