Kind van God, onthou hoe Hy jou sien! – 28 Oktober 2022
Deur Ewald Schmidt
Bybelteks(te)
ROMEINE 8
Een van die moeilikste verhoudings om gesond te hou, is die een met jouself. As klein kindertjies begin ons ontdek dat ons ‘n eie, unieke persoon is, en begin ons die grense van ons bestaan toets – die “terrible two’s” volg. Ons samel van kleins af inligting in: hoe sien die wêreld my? Wat is my ouers se belewenis van my? My boeties en sussies? My vriende by die skool? Met baie stampe en stote kom ons by ons tienerjare uit, waar ons die grootste deel van ons selfbeeld vorm vir die res van ons lewe. Wie is ek? Waartoe is ek in staat? Wat is al my tekortkominge?
Die probleem is dat die informasie wat ons insamel, nie altyd suiwer is nie. Nie alle kinders is gelukkig om in liefdevolle ouerhuise groot te word nie. Broers en susters kan mekaar baie verkeerd opvryf so in die grootwordjare, en die tienerjare tussen ‘n klomp tydsgenote wat almal hulle beste voetjie probeer voorhou, dis maar rof!
In ons lewe kry ons baie verskillende terugvoer oor wie ons is. ‘n Mens beleef baie verwerping langs die pad. Toetse wat jy nie slaag in jou opleiding nie. Liefdesteleurstellings. Spanning rondom prestasiemeting by jou werk. So maklik kan hierdie ervarings ‘n mens laat ontspoor en laat dink: ek is ‘n mislukking! Ek maak dit nie.
Wanneer Paulus vir die gelowiges in vervolging in Rome skryf, dan is hulle platgeslaan deur al die teenkanting wat hulle kry. Wanneer hulle vir hulle lewens vrees, en sukkel om selfs net brood te koop, beleef hulle soveel spanning oor wie hulle is.
Daarom doen Paulus groot moeite om hulle te herinner aan die opinie oor ‘n mens wat werklik saakmaak. Ja, ons is in al hierdie dinge, die omstandighede waarin ons verkeer is regtig nie altyd maklik nie. ‘n Mens kan so maklik dink jy maak dit nie.
Maar die Here wat ons gemaak het, stap met ons ‘n ewige pad. Sy opinie is al wat regtig saakmaak. Hy sien nie sy kind as ‘n verloorder nie. Hy dink nie ons “maak dit nie”. Inteendeel. In God se oë is sy kinders meer as oorwinnaars. Meer as goed genoeg!
Wat maak die verskil? Die ervaring van God se liefde in ons lewe. Ons bou ons selfbeeld nie op die opinies van ander nie, maar op dit wat die Here oor ons sê. Hy het gesê dat Hy ons liefdevol aanmekaar geweef het in ‘n moederskoot, en vir ons lewe gegee het. (Psalm 139) Hy het ons so lief dat Hy sy Seun vir ons gegee het om ons te verlos. (Johannes 3:16) Hy het ons ‘n nuwe mens kom maak. (2 Korintiërs 5:17) Hy woon deur sy Gees in ons, en laat ons roep Abba! (Romeine 8:15) Ons is God se geliefde kinders. Hy help ons deur die Gees om al die uitdagings te oorwin, en eendag veilig by ons eindbestemming, sy Vaderhuis, uit te kom. Wie is jy? Deur God se liefde is jy meer as ‘n oorwinnaar!
Gebed: Here, help my om myself deur u oë te sien. Ek is nie ‘n verloorder deur my omstandighede nie, ek is ‘n oorwinnaar in my omstandighede. Dankie dat U my so help om oorwinnend te lewe! Amen