Lewe na die dood – 11 Oktober 2022
Deur Ewald Schmidt
Bybelteks(te)
ROMEINE 8
Ons lees in Romeine 8 van die nuwe lewe wat die Heilige Gees vir ons kom gee deur geloof. Hy het saam met ons ‘nnuwe pad begin stap. Hy het aan ons lewe en vrede kom gee, het ons alreeds in vers 6 gesien. Dit is alreeds vir hier en nou in ons lewe baie kosbaar. Jesus het aan ons lewe in oorvloed kom gee, het Hy in Johannes 10:10 gesê. ‘nLewe wat hier en nou sin maak. Hy het nou alreeds vir ons vrede gebring, vrede met God, vrede met my naaste, en vrede in myself.
Een van die mees kosbare beloftes in die Bybel is dat hierdie lewe, saam met die Here, vir altyd gaan aanhou. Ons leef nou nog in ons sterflike liggame. Ons sien in ons liggame die agteruitgang soos wat ons ouer word. Ons is deeglik bewus daarvan dat ons biologiese lewe ‘nvervaldatum het, dat ons eendag gaan doodgaan. Paulus verklaar dat dit die nagevolge van sonde in die wêreld is. Ons leef nou in ‘nonvolmaakte bedeling, en hierdie aardse liggaam van ons verweer en gaan eendag sterf.
Ons het in Romeine 8:1 gesê dat daar baie kosbare beloftes in hierdie hoofstuk is, maar dit is beperk tot God se kinders, dié wat “in Christus Jesus” is. Mense wat in geloof in Jesus se voetspore volg. Deur sy Gees woon Jesus in ons. Hy is elke tree van die lewenspad saam met ons. Hy waarborg die bestemming waarheen ons lewensreis op uitloop. Hy gee aan ons die lewe. Lewe anderkant die dood. Lewe wat vir altyd hou. Omdat ons volgelinge van Jesus is, stap ons in sy voetspore van lyding, en dood. Dit word ons nie gespaar nie. Die belofte in die teksvers vandag is dat Jesus se opstanding ook ons ervaring gaan word, wanneer ons sterflike liggame eendag weer lewend gemaak sal word.
Ons weet mos nie nou al presies wat dit gaan behels nie. Maar ons hou vas aan Jesus se woorde in Johannes 6:47, toe Hy gesê het: “Dit verseker Ek julle, wie in My glo, het die ewige lewe.”
Gebed: Here, dankie dat U hierdie wêreld, en vir my so lief gehad het, dat U u enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. Dankie dat U hierdie belofte vandag weer deur ons teksvers kom onderstreep. Help my om daaraan vas te hou wanneer my lewenspad moeilik raak – my toekoms is veilig, want Jesus leef! Amen