Medewerkers in die koninkryk – 26 September 2022
Deur Ben Fourie
Bybelteks(te)
KOLOSSENSE 4
Paulus sit tydens sy eerste gevangenskap in huisarres in Rome. Hy is vol blydskap oor berigte uit Kolosse dat dit goed gaan met die gemeente aldaar, maar hy is ook bekommerd oor berigte van dwaalleer wat hy ontvang het. Daarom skryf hy in die jaar 61 of 62 n.C. ‘n brief aan die gemeente om hulle te versterk in “ … julle geloof in Christus Jesus, en die liefde wat julle vir al die heiliges het.” (Kolossense 1:4).Behalwe vir die bemoedigende woorde vind hy dit ook nodig om hulle te waarsku teen diegene wat hulle met “slinkse argumente” om die bos wil lei. Hierdie dwaalleringe gaan grootliks oor rituele en vereistes soos besnydenis, die hou van sekere feesdae en allerlei wette oor die reinheid al dan nie van sekere kossoorte.
Hierdie brief stuur hy met Tigikus na Kolosse. Saam met Tigikus reis ook Onesimus wat as slaaf van sy eienaar Filemon weggeloop het en onder Paulus se bediening tot geloof in Christus gekom het. Paulus stuur hom nou terug na sy eienaar in Kolosse. Ons lees die verhaal in Paulus se brief aan Filemon. Verder stuur Paulus ook groete namens Epafras wat waarskynlik die stigter van die gemeente in Kolosse was asook ander medewerkers soos Aristargus, Lukas die dokter en evangelieskrywer, asook Demas. Saam met al hierdie persone maak hy spesiaal melding van Markus. Dit is Johannes Markus, neef van Barnabas wat die Markus Evangelie geskryf het en ook saam met Paulus op die eerste sendingreis was. Verder is daar nog Jesus wat ook Justus genoem word.
Wat is so belangrik aan al die name en mense? Hulle is almal medewerkers vir die koninkryk van God wat saam met Paulus groot ontberings gely het, dikwels in gevaar was en die vervolging van die Jode moes verduur. Markus en Justus was self Jode en moes sekerlik die hoon en vervolging van hulle volksgenote dubbel en dwars verduur, maar hulle bly getrou aan die evangelie en ondersteun en troos vir Paulus in sy gevangenskap.
God het vandag nog onverskrokke medewerkers in sy koninkryk nodig, gewone mense soos ek en jy, wat deur dik en dun sal voortgaan met die verkondiging van die wonderbare verlossing in en deur Jesus Christus.
Gebed: Liewe Vader al kan ek nie soos Paulus en sy medereisigers in ander lande gaan evangelisasiewerk doen nie, gebruik my as medewerker in u koninkryk hier waar ek woon en werk. Amen