Met God se hulp kan ek binne sy wil lewe! – 5 Oktober 2022
Deur Ewald Schmidt
Bybelteks(te)
ROMEINE 8
Die lewe is altyd vol keuses. Ons keuses bepaal in ‘n groot mate die gang van ons lewe. Dit maak regtig saak of ek links of regs by die stopstraat draai!
Wanneer Jesus die Here van my lewe word, is ek ‘n nuwe mens. 2 Korintiërs 5:17 bevestig dit so mooi! Daardie nuwe mens word nie dadelik hemel toe weggevat nie, ons word in hierdie wêreld met ‘n rede gestuur. Ons het in die vier evangelies gesien hoe ons Here Jesus vir mense roep – “Kom, volg My!” Hy nooi ons uit om saam met Hom die lewenspad te stap. Dit kan die grootste geloofsavontuur wees om ‘n dissipel van Jesus te wees, iemand wat in sy voetspore volg.
Wanneer ons nuwe mense in geloof word, is ons nie robotte nie. Ons is steeds mens, met ons eie wil, en ons het keuses om elke dag te maak. God het die hart van ‘n Vader, en dit is tog lekker as jou kind kies om jou lief te hê. In alles wat ons doen, is daar keuses. Gaan ek die Here verheerlik met dit wat ek besluit? Gaan dit my naaste opbou as ek so besluit? Gaan dit my eie lewe opbou en beter maak? Gaan dit ‘n getuienis van God se grootheid en liefde uitdra as ek so besluit?
Die Heilige Gees help ons om God se wil te ken. Hy maak die Bybel vir ons duidelik. Hy gee ons die krag om te gehoorsaam. Hy lei ons op die regte pad – dit is wat dit beteken om jou deur die Gees te laat beheers. Hy lei, jy volg met blydskap waar die pad ook al gaan.
Daar is ook elke dag die moontlikheid dat ons verkeerd kies. Ons maak nog steeds foute langs die lewenspad. Die ou ek, die sondige natuur, is maar steeds daar binne my. Die ou ek kies gewoonlik vir my eie belange, dikwels teen die wil van die Here. Maar met die hulp van die Here gee die Gees my die wysheid en insig om reg te kies.
Hierdie drie vrae help gewoonlik baie: Is dit wat ek wil doen, tot eer van God? Is dit tot opbou van my naaste? Is dit tot opbou van my eie karakter?
Met die Heilige Gees se krag kan ek binne God se wil bly, Hom liefhê met my hele hart, siel en verstand, en my naaste soos myself.
Gebed: Here, dankie dat U die God van verhoudings is. Dankie dat U deur u Gees my lei om so te lewe, dat ek U kan verheerlik in alles wat ek doen. Ek weet ek kry dit nooit volmaak reg nie. Maar dankie dat U die hart van ‘n goeie Vader het, en dat daar altyd genade en geduld met u kinders is. Lei my deur u Gees om die regte keuses elke dag te maak, wat U sal eer! Amen