‘n Geboorte aangekondig – 1 Desember 2022
Deur Carina Francke
Bybelteks(te)
MATTEUS 1
Die wêreld vier binnekort Kersfees. Elke land volgens sy eie tradisie, geloof en gebruike. Die gee van geskenke aan geliefdes, asook ‘n saameet of -kuier is gewoonlik die algemene gebruik. Vir die Christus gelowige is hierdie jaarlikse feestyd ‘n herinnering aan, en viering van die vervulling van God se belofte, dat ‘n Redder vir die mensdom gebore sou word – ‘n waarheid vir ewig staan.
Dit moet vreemd wees as ‘n engel aan ‘n jong verloofde maagd verskyn en hy haar groet as dié begenadigde van God en geseënde onder die vroue. Des te meer moes die nuus wat hy breek, vreesaanjaend vir haar gewees het – ‘n swangerskap sonder die toedoen van ‘n man! “Jy sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee.” (Lukas 1:31-35) Hoe kan dit dan wees as sy nog nooit by ‘n man was nie? Die Engel verduidelik dat die Heilige Gees oor haar sal kom en dat die krag van die Allerhoogste die lewe in haar sal wek.
Sy berus daarin en weet dat God saam met haar hierdie onbekende en unieke pad sal loop. Dan die klimaks van hierdie nuus: “Die Heilige wat gebore word, sal heilig genoem word – die Seun van God.” (Lukas 1:31-35, 1933/1953-vertaling)
Hoor jy liewe leser, hierdie Kindjie is die Seun van God! Die profetiese woord van Jesaja baie jare tevore, naamlik dat ‘n Redder gebore sou word, het in vervulling gegaan. Met hierdie wonderwerk swangerskap, is Jesus se mensvoete vierkantig op aarde geplant. Ten volle God, maar ook ten volle mens. En daarom, die enigste Een wat tot redding van die verlore mens kon kom.
Sy moeder het in haar leeftyd die realiteit beleef van wie haar Seun is en wat sy taak op aarde is. In verwondering kon sy net toekyk en beleef hoe een na die ander profetiese woord oor Hom, in vervulling gaan. Ook die Heilige Gees geïnspireerde woorde van Simeon: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot ‘n val en ‘n opstanding van baie in Israel en tot ‘n teken wat weerspreek sal word. So sal die gesindheid van baie aan die lig kom. En wat jou betref, ‘n swaard sal deur jou siel gaan.” (Lukas 2:34-35)
Wie is hierdie besondere Seun in wese? Hy is Jesus – ‘n manlike mens, verwek deur die Heilige Gees. Hy word genoem Jesus; Hy is Immanuel, God by ons (Matteus 1:23); Hy is groot en is die Seun van die Allerhoogste (Lukas 1:32). Hy is ewige erfgenaam van die troon van sy voorvader Dawid en vir ewig heerser oor die nageslag van Jakob (Lukas 1:32-33)
Gebed: Hemelse Vader, dankie vir u genadewerk dat Immanuel kom huismaak het by die skeppings van sy hande. Alles vir die mens is nou anders – Hy is nou God by ons. Amen